On Now
Weekends 16:00 - 20:00
OFM Decades James
NEXT: 20:00 - 23:59 The Music Man Mix with The Music Man
Listen Live Streams

Central SA

Boshof-onnie beste wiskunde-onderwyser in Suid-Afrika

───   HEIDRÈ MALGAS 11:23 Sat, 14 Oct 2023

Boshof-onnie beste wiskunde-onderwyser in Suid-Afrika | News Article
Johané Marais. Foto verskaf

Sy help leerders om wiskunde te geniet en nie bang daarvoor te wees nie.

Johané Marais, ’n onderwyseres aan die Gekombineerde Skool Boshof in die Wes-Vrystaat, is onlangs tydens die Nasionale Onderwysdepartement se prysuitdeling aangewys as die beste wiskunde-onderwyser vir gr. 7–9-leerders.

Dit is absoluut ’n eer en “so lekker” om erkenning te ontvang vir haar harde werk, vertal Marais. Sy voel werklik waardeer. Sy vertel dat by die inskrywing ’n lys vrae was oor onder meer onderrigstyl en motivering. Onderwysers het hulle antwoorde voorgelê aan distrik, provinsiaal en dan nasionaal panele.

‘Ek maak gebruik van my drama-agtergrond’

Volgens Marais is dit haar passie vir die vak wat haar as wiskundeonderwyseres onderskei. Sy help leerders om wiskunde te geniet en nie bang daarvoor te wees nie.

“Ek maak gebruik van my drama-agtergrond om konsepte op ’n kreatiewe manier aan my leerders te leer, soos liedjies wat ek self skryf en speletjies wat ek ontwerp.”

Sy het ook ’n karatebeltsisteem waar sy leerders wegvorder van punte en persentasies. Hulle fokus dan op kleurpersentasie en hoe om ’n swart belt in wiskunde te kry deur te vorder na die volgende vlakke (wat gekoppel is aan akademiese vlakke).

Johané Marais ontvang haar prys. Foto verskaf.

“Ek bederf my leerders ook kwartaalliks met selfgebakte kolwyntjies vir hardwerkende leerders en diegene wat vordering getoon het,” sê Marais.

“Ek stel my leerders ook aanspreeklik vir hul eie punte en vordering. Ek laat hulle hul eie realistiese doelwitte kies vir die kwartaal. Ek identifiseer ook die potensiaal in leerders en werk individueel met hulle om daardie potensiaal te bereik,” vertel sy verder.

Marais het wel uitdagings, onder andere dat sommige leerders finansieel sukkel, wat dit moeilik maak om byvoorbeeld skryfbehoeftes en sakrekenaars te bekom. “Ek het ’n wiskundebiblioteek in my klas waar leerders items kan uitleen, gebruik en weer terugbring. Ek het ook jaarlikse borge wat sakrekenaars borg vir leerders wat ’n 10% of meer verbetering getoon het.”

‘Betrek leerders by die lesse’

Haar raad aan onderwysers is om weg te beweeg van ’n lektoragtige verduideliking en om wiskunde pret te maak vir leerders deur die gebruik van die klaskamer en buite-areas. “Maak ook gebruik van die ongelooflike tegnologie wat ons vandag tot ons beskikking het en betrek leerders by die lesse,” raai sy verder aan.

“Ek wil graag my speletjies en liedjies met ’n breër gehoor deel sodat leerders in ander skole ook daarvan kan baat vind,” sluit sy af.

OFM Nuus/Heidrè Malgas

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.