On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Saterdag Siësta Nikki
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

Central SA

Polisie wag op uitslae van Philippolis-seun se nadoodse ondersoek

───   08:52 Sat, 01 Feb 2025

Polisie wag op uitslae van Philippolis-seun se nadoodse ondersoek  | News Article
Reagen Vrolik is vroeg Donderdagaand oorlede. Foto verskaf

’n Nadoodse ondersoek sal bepaal of ’n sewejarige seun van Philippolis in die Vrystaat doodgeskok is.

Ander moontlikhede wat ondersoek word, sluit in ’n kortsluiting ná donderweer, asook ’n tref-en-trap-ongeluk. 

Philippolis Post se Jens Friis berig Reagen Vrolik is vroeg Donderdagaand (30/1) dood gevind voor die NG kerksentrum in Voortrekkerstraat. Daar word ondersoek of hy aan ’n ankerdraad van ’n elektriese paal gevat het, wat moontlik tot sy dood gelei het. Dit het gereën toe die voorval plaasgevind het.

Reagen Vrolik is dood gevind voor die NG kerksentrum in Philippolis. Foto: Jens Friis

Pulani Simes, skriba van die NG kerk, het reeds in 2023 aan Centlec hierdie kortsluiting gerapporteer, maar daar is na bewering toe bevind dat niks fout is nie. Lesedi het enkele maande gelede by Centlec oorgeneem as elektrisiteitsverskaffer aan Philippolis.

Talle Philippolisers het op Facebook bevestig dat hulle al skokke by hierdie kragpaal gevoel het.

Philippolisers ontsteld

Reagen se onverwagse dood is druk bespreek onder ontstelde Philippolisers. Daar is onder meer genoem dat die elektriese infrastruktuur deesdae nie na wense is nie.  Inwoners het gewonder wie verantwoordelik gehou sal kan word vir die kind se dood.

Ander inwoners het genoem dat ’n motor dieselfde dag verskriklik vinnig in die dorp rondgejaag het en hulle wonder of Vrolik nie dalk raakgery is nie.  

Die polisie het benadruk dat die saak ondersoek word en dat hulle wag op die uitslae van 'n lykskouing.  


Rodney Engelbrecht, skoolhoof van Bergmanshoogte, het oor Reagen se dood die volgende opgemerk: “Ons is stomgeslaan oor die skielike dood van die woelige en lewenslustige sewejarige Reagen.  Sy teenwoordigheid sal gemis word. Rus sag, Reagen."  

Sy klasonderwyseres, Ingrid Engelbrecht, kon net haar kop skud in ongeloof oor haar leerling se onverwagse heengaan. “Ek het gistermiddag nog gesien hoe hy rondhardloop ná skool. Hy het graag in die dorp gespeel. Ek kan nie glo hy is net skielik nie meer hier nie.  Die lewe is ongelooflik vervlietend.”

Volgens ’n familievriend “is daar nie geld om klein Reagen te begrawe nie. Daarom word donasies – hoe groot of klein – gevra. Die begrafnispolis vra R4000, wat die familie nie nou het nie. Hulle het glad nie gereken dat Reagen nou sou sterf nie.”

OFM Nuus/Philippolis Post (Jens Friis) cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.