On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Klerksdorp-aanranding: Familie neem roerend afskeid van Hilton Pretorius

───   HEIDRÈ MALGAS 17:04 Fri, 29 Sep 2023

Klerksdorp-aanranding: Familie neem roerend afskeid van Hilton Pretorius | News Article
Hilton Pretorius. Foto Facebook

“Die laaste drie weke het Hillie stil gelê, nie 'n woord gesê nie, maar op sy donkerste dae op aarde het hy mense na hom aangetrek.”

‘n Troosdiens is Vrydag vir Hilton Pretorius (32) in die Hervormde Kerk in Doringkruin, Klerksdorp, gehou. Wernich Botha (33) word van moord aangekla nadat hy Pretorius vroeër vandeesmaand in ’n parkeerterrein aangerand het. 


Hilton se ma, Linda Mey, het op Facebook gesê hy is op Sondag 18 Augustus 1991 gebore en dit was ook dié Sondag nagmaal. Sy suster, Lindie Pretorius-Geldenhuys, het in ‘n huldeblyk hom as ’n wonderlike mens beskryf. 


“Hillie was ons kleinboet, die mooi een, met die spierwit haartjies wat enigiemand om sy pinkie kon draai met sy glimlag,” het sy gesê. Hy het 'n ongelooflike liefde vir mense en diere gehad. Hulle het destyds 'n beseerde bosduif by die huis gekry en Hilton het dit gesond gedokter en daarna was die bosduif 'n huisduif.

“Hy was 'n groot rugbyliefhebber. Die Bulle en die Bokke was sy spanne. Hy het hulle aangemoedig en ondersteun en dit alles voor die TV gedoen,” sê sy. Niks was vir hom lekkerder as om sy familie en vriende by hom te hê nie.

“Die laaste drie weke het Hillie stil gelê, nie 'n woord gesê nie, maar op sy donkerste dae op aarde het hy mense na hom aangetrek. Mense wat hom nie eens geken het nie, het hy aangeraak.”  

OFM Nuus het vroeër berig drie mans was betrokke in die voorval. Pretorius en PW Roos, ’n sakeman, was bewusteloos toe hulle in die hospitaal opgeneem is.


OFM Nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.