On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Anny
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Bolhuis-span identifiseer 5 verdagtes in Wilgehof-moorde

───   HEIDRÈ MALGAS 12:12 Wed, 20 Sep 2023

Bolhuis-span identifiseer 5 verdagtes in Wilgehof-moorde | News Article
Die liggame van Bets Kruger (voor regs), haar dogter Janine en skoonseun Christo Theron (agter) is in die huis gevind. Die ouma is ongedeerd. Foto: Facebook

"Weens die sensitiewe aard van die ondersoek en om die bronne te beskerm kan name nie bekend gemaak word nie."

Die private ondersoeker Mike Bolhuis en sy span het vyf verdagtes geïdentifiseer wat betrokke was by die moorde op 29 Junie in Wilgehof, Bloemfontein. Bets Kruger (65), eienares van die Byenes-dagsorgsentrum, haar skoonseun, Christo (36), en dogter, Janine Theron (35), se liggame is in ’n slaapkamer gevind.

Die oorledenes se familie het hom gekontak om te help met die ondersoek, sê Antoinette Coetser, ondersoeker van Mike Bolhuis se Specialised Security Services. “Ons het alle inligting aan die polisie gegee wat ons van beriggewers gekry het. 

“Ons werk saam met die polisie en hulle moet net die inligting bevestig. In ’n opvolgbesoek het ’n derde party inligting oor die verdagtes verskaf.”

Janine Theron en haar ma, Bets Kruger, was by die Curriebeker-eindstryd net ’n paar dae voor hul moord. Foto: Facebook

Daar is geen verbintenis tussen die families en die geïdentifiseerde verdagtes nie. Coetser sê weens die sensitiewe aard van die ondersoek en om die bronne te beskerm, kan name nie bekend gemaak word nie.

Die motief vir die moorde dui op finansiële gewin. Die verdagtes het brutaal opgetree om geld en waardevolle items te kry. Sy sê die verdagtes is nog nie ondervra nie omdat die polisie se ondersoekbeampte eers alle inligting moet opvolg.

Janine en Christo Theron op hul troudag in Desember 2021. Foto: Facebook

Coetser sê daar is altyd uitdagings in dié soort misdade en daar is baie vrae oor wat vooraf en tydens die aanval gebeur het.

Inwoners van die buurt is steeds geskok oor die moorde. Die Mike Bolhuis-ondersoekspan het al verskeie oproepe ontvang. Enigiemand met inligting kan Mike Bolhuis direk kontak of vir Coetser by 082 319 4751.

OFM Nuus/Heidrè Malgas

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.