On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Sportjoernalis skryf boek oor 'Liefling van Loftus'

───   HEIDRÈ MALGAS 14:18 Fri, 15 Sep 2023

Sportjoernalis skryf boek oor 'Liefling van Loftus' | News Article
Derick Hougaard, die "Liefling van Loftus". Foto: SA Rugby Magazine

Dié boek gee ’n dieper insig oor Derick Hougaard se rugbydae en die dramas wat hom op voorblaaie laat beland het.

Brenden Nel, 'n sportjoernalis wat al talle toekennings ontvang het, insluitend die SAB se sportnuusverslaggewer van die jaar, het ’n boek oor Derick Hougaard, die "Liefling van Loftus", geskryf waarin hy meer vertel oor wie Hougaard regtig is.

Derick Hougaard. Foto: Facebook

Nel sê die rede waarom hy die boek geskryf het, is omdat hy Hougaard al ken vandat hy 19 jaar oud is – toe hy by die Blou Bulle by Loftus aangesluit het. Nel het deur sy hele loopbaan as 'n rugbyskrywer oor Hougaard geskryf.

"Derick was al so dikwels in die koerante en tydskrifte en het so 'n interessante lewe gehad dat ek gevoel het dat ’n boek oor hom moes skryf." 


Hougaard het in  ’n stadium hom aan die proses onttrek weens persoonlike redes, maar Nel het voortgegaan om te skryf soos dit hom geïnspireer het. Hy sê daar is ongelooflike hoogtepunte en laagtepunte in die boek.

"Die boek was baie moeilik om te skryf omdat daar baie persoonlike stories oor Derick is, insluitende stories oor verslawing en ongelooflike hoogtepunte in sy loopbaan, en ook waarom sy Springbok-loopbaan nooit vordering gemaak het nie."  

Daar is ook stories in die boek wat die diep menslike stryd van Hougaard en die uitdagings vertel wat hy moes deurmaak.

Die sangeres Nádine en Derick Hougaard. Foto: Facebook

Daar is stories in die boek wat mense nog nie voorheen gehoor het nie. Daar is stories wat mense sal laat lag en stories wat mense sal laat huil.

Die boek se titel is "Die ware storie van die Liefling van Loftus".

Dié boek gee ’n dieper insig oor Hougaard se rugbydae en die dramas wat hom op voorblaaie laat beland het. Dit onthul ook die pogings van vriende en naasbestaandes om hom van sy verslawing los te maak, maar ook hul vrese toe hy vir byna twee weke in 'n koma was.

Dit is 'n diep menslike verhaal oor die fyn lyn tussen sukses en mislukking, en hoe selfs die grootste helde maklik knieë kan buig as die menigte stil word.

Die boek is vanaf 13 Oktober 2023 beskikbaar teen R260.

OFM Nuus/Heidrè Malgas

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.