On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Saterdag Siësta Laurika
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

Central SA

Vroulike wetenskaplikes se uitnemende rol vereer

───   TSHEHLA KOTELI 08:11 Wed, 13 Sep 2023

Vroulike wetenskaplikes se uitnemende rol vereer | News Article
Die wenners van verskillende kategorieë by die Suid-Afrikaanse Vroue in Wetenskap-toekennings, saam met die Minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Tegnologie, Blade Nzimande. Foto: Facebook

“Die toekennings gee erkenning aan en beloon die uitnemendheid van vroulike wetenskaplikes en navorsers, ook as rolmodelle vir jonger vroue.”

Vroulike wetenskaplikes en navorsers is onlangs by die jaarlikse Suid-Afrikaanse Vroue in Wetenskap (Sawisa)-toekennings vereer.

Dr. Blade Nzimande, minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Tegnologie, het in sy toespraak hulde gebring aan die werk deur vroue in dié sektor wat tradisioneel deur manlike navorsers gekenmerk word. Hy het ook verwys na die potensiaal van die sektor om Suid-Afrika na ’n hoër tegnologiese vlak te neem en sommige uitdagings op te los.

“Die industriële revolusies in die land se sosiale en ekonomiese geskiedenis het vernuwing en tegnologiese vooruitgang meegebring en tot gevorderde metodes van produksie en dienslewering gelei. Ongelukkig is vroue weens patriargale oortuigings en sistemiese struikelblokke uitgesluit om bydraes tot navorsing, wetenskap en tegnologiese vooruitgang, die dryfkragte agter die industriële revolusies, te maak.

‘Tegnologiese verandering om vroue en meisies te bemagtig’

Minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Tegnologie, Blade Nzimande, by die toekenningseremonie. Foto: Facebook

“Vandag bevind ons onsself in die digitale era en die vraag is: Hoe kan ons tegnologiese verandering en vernuwing gebruik om geslagsgelykheid te bevorder en vroue en meisies te bemagtig? Sommige van die antwoorde kan gevind word in die merkwaardige en baanbrekende navorsing wat gedoen is deur die vroulike finaliste en wenners wat ons hier erken en huldig.”

Die vroue wat aan verskillende navorsing in die wetenskap deelgeneem het. Foto: Facebook

Die navorsing deur die vroulike wetenskaplikes dek 'n wye reeks onderwerpe, insluitend:

1. Die aanspreek van veiligheid en geweld, veral geweld teen kinders, deur middel van digitale hulpmiddels en tegnologieë om skade te voorkom en kinderwelstand te verbeter.

2. Die genesing van historiese trauma en geslagsgebaseerde lyding deur praktiese, terapeutiese tegnieke soos borduurwerk te gebruik om genesing mee te bring en stories van sosiale trauma oor te vertel.

3. Die bevordering van geslagsgelykheid deur doeltreffende metodes te ondersoek om mans te betrek by pogings om geweld teen vroue te beëindig.

4. Die studie van aangebore en rumatiese hartsiektes, MIV by adolessente en hartprobleme by vroue van vrugbare ouderdom.

5. Die bevordering van kankerterapie deur die toepassing van lasers, wat interdissiplinêre samewerking deur onder meer biochemie, laserfisika, organiese chemie, plantkunde en nanotegnologie behels deur medewerkers regoor Afrika.

Die tema vir die Sawisa-toekennings is geïnspireer deur die 67ste sessie van die Verenigde Nasies se Kommissie oor die status van vroue wat in Maart vanjaar gehou is. Die kommissie se tema was "Innovasie en tegnologiese verandering en onderwys in die digitale era vir die bereiking van geslagsgelykheid en die bemagtiging van alle vroue en meisies".

OFM Nuus/Tshehla Koteli

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.