On Now
Weekdays 23:00 - 23:59
Overnight Oscar
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Central SA

Die kat kom weer, of is dit die laan se likkewaan?

───   CORNÉ GREYVENSTEIN 11:06 Tue, 05 Sep 2023

Die kat kom weer, of is dit die laan se likkewaan? | News Article

Die video van 'n groep mans wat om 'n motor staan en stoei, herinner Bloemfonteiners aan die laan se likkewaan.

’n Groep Bloemfonteiners het in 'n parkeerarea in Fauna om 'n motor saamgedrom waar ’n paar manne aan die stoei was.

Die video wat daarvan op sosiale media versprei is, het herinner aan die laan se likkewaan.


In die nuutste voorval het ’n likkewaan Maandagoggend onder die enjinkap van ’n vrou se motor geskuil en vir sy lewe aan pype vasgebyt. Verskeie mans het die likkewaan probeer loswikkel terwyl die vrou bekommerd was oor moontlike skade aan haar motor. 

Die een man het verduidelik die gedierte dink hy word aangeval. Die reptiel het uiteindelik bes gegee en laat los. Hy is in 'n groot emmer toegemaak en word hopelik ver uit die stad vrygelaat.


Vyf jaar gelede is nog 'n likkewaan onder 'n geparkeerde voertuig in Tweedelaan, Westdene, gevind.

Zonela Mkhumbeni was net betyds om iets onder sy motor te sien inhardloop. Karwagte het vir hom gesê dit is 'n groot akkedis.

Dié gedierte het onder die linkervoorwiel van Mkhumbeni se motor weggekruip. Ná verskeie pogings om hom uit sy skuilplek te kry, is Mangaung Conservation se reddingsdienste gebel.

Harry Jan Baloyi, ook bekend as “Slangman”, het hom na die toneel gehaas om te gaan help. Hy het sommer die geleentheid gebruik om mense op te voed. Hy sê as gevolg van aardverwarming sal diere soos die rotsmonitor, ook bekend as die leguaan, van die veld af die stad binnekom om die hitte te probeer ontsnap. Soms beland hulle in die stad op soek na kos.


Baloyi het die publiek gerusgestel dat dit baie normaal is om 'n reptiel soos die leguaan te sien ronddwaal in die stad as gevolg van klimaatsverandering, so mense moet die situasie nie as iets vreemd of as ’n geval van heksery hanteer nie.

Die rotsmonitor, ook genoem die leguaan, likkewaan of swartkeelmonitor, is 'n akkedisspesie wat in Sentraal-, Oos- en Suider-Afrika voorkom. Dit is die tweede langste akkedis wat op die vasteland gevind is, met die swaarste lyf.

Baloyi het Bloemfonteiners versoek om Mangaung Conservation te bel, sou hulle so ’n dier in hul woongebied teëkom.

OFM Nuus/Corné Greyvenstein


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.