Central SA
Michael Pretorius van Sasolburg verloor toe wel sy linkerbeen─── 15:45 Wed, 23 Aug 2023
Die operasie om Michael Pretorius (21) se linkerbeen net bo sy knie te amputeer het goed afgeloop.
Die operasie is Woensdagoggend (23/8) in die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein gedoen.
Sy pa, Nicky Pretorius, sê hy het wel baie pyn en sy hart moet nou aanpas met die nuwe bloedvloei en nuwe dinge om aan gewoond te raak. “Ons is verlig die operasie is verby en dit gaan oukei met ons almal onder die omstandighede.”
Michael en sy ouer broer Nicky (22) was op 28 Junie saam in ’n motorongeluk. Nicky is die dag ná die ongeluk in die Sasolburg-hospitaal dood.
Michael Pretorius se regterbeen het gesond geword, maar sy linkerbeen is Woensdag afgesit. Foto verskaf
Michael is met verskeie veelvoudige beserings in die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein opgeneem. Hy het sy nek en rug gebreek. Hy het ook albei sy bene gebreek en het erg gesukkel met bloedtoevoer na sy linkerbeen. Sy linkerbeen is verskeie kere geopereer, en hy is ná 36 dae uit die Pelonomi-hospitaal ontslaan om met sy lang rehabilitasieproses in Gauteng te begin.
Michael is egter verlede Vrydag (11/8) teruggebring na die Pelonomi-hospitaal nadat hy ’n aggressiewe infeksie in sy linkerbeen opgedoen het wat deur ’n superkiem veroorsaak is.
Dit sou ook Dinsdag Nicky se 23ste verjaardag gewees het. “Dit was ’n moeilike dag en ’n moeilike week met die amputasie en ons het almal baie gehuil. Maar ons kan nou vorentoe,” sê Michael se pa.
Michael moet nog minstens twee weke in die hospitaal bly. “Hy gaan ook oor vier dae terug teater toe, waar die wond van die operasie weer skoongemaak moet word en kyk of die infeksie heeltemal opgeklaar is.”
Hulle is nog nie seker of Michael dan terug gaan na die rehabilitasiesentrum toe nie.
“Hy wil baie graag huis toe gaan,“ vertel sy pa. ’So ons sal nog besluit.”