On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Anny
Listen Live Streams

Central SA

Beskuldigde erken moord op jong Noordwes-plaasbestuurder

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:52 Tue, 12 Nov 2024

Beskuldigde erken moord op jong Noordwes-plaasbestuurder | News Article
Ian Boshoff. Foto: Facebook

Een van die beskuldigdes in die moord op ’n jong plaasbestuurder naby Potchefstroom bly in aanhouding nadat hy skuldig gepleit het.

Phafelo Israel Mboniswa (42) en William Johnson Mboniswa (32) het Maandag (11/11) vlugtig voorgekom in die Potchefstroomse landdroshof, sê brig. Sabata Mokgwabone, Noordwes-polisiewoordvoerder.

Ian Boshoff (32), ’n plaasbestuurder van Snymanshof Lodge in die Buffelshoek-omgewing tussen Potchefstroom en Parys, is op 25 Oktober tydens ’n rooftog doodgeskiet. Phafelo en William Mboniswa is Donderdag (7/11) in die Potchefstroomse Ikageng-woonbuurt in hegtenis geneem.

Volgens Mokgwabone is aanklagte teen ’n derde verdagte Maandag in die hof laat vaar. Die drie beskuldigdes het pas verskyn, toe Phafelo sy hand opsteek en erken hy het Boshoff vermoor.

Ian Boshoff is twee weke terug vermoor. Foto: Facebook

Die beskuldigdes staan tereg op aanklagte van moord, huisbraak, voertuigdiefstal, die besit van vermoedelik gesteelde goedere en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie, sê Mokgwabone.

Hulle sal na verwagting weer op 25 November voorkom vir ’n moontlike borgtogaansoek. Albei verdagtes het regshulp versoek.

’n Buurman het ondersoek ingestel nadat hy Boshoff nie in die hande kon kry nie. Die buurman het sy liggaam in ’n plas bloed aangetref. Die rowers het hulle uit die voete gemaak in Boshoff se Land Cruiser, maar dis ’n paar dae later naby Orkney gevind.

Ian Boshoff se verdagtes het Maandag in die hof verskyn. Foto: Facebook

Mokgwabone sê tydens die inhegtenisnemings het die polisie beslag gelê op drie vuurwapens, waarvan twee tydens die roof gesteel is en een gebruik is om ’n ander misdaad te pleeg. Nog talle items wat tydens die rooftog gesteel is, is ook by die beskuldigdes teruggevind, insluitend ’n noodwiel, klere, kampeerstoele, komberse, twee beddens, matte en ammunisie.

Die beskuldigdes word ook daarvan verdink dat hulle betrokke was by ’n tweede huisbraak in die Buffelshoek-omgewing.

Boshoff is Saterdag (9/11) tydens ’n troosdiens op Bothaville gegroet.

OFM Nuus cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.