On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Anny
Listen Live Streams

Central SA

Regstappe kom: Potchefstromers enkeldiep in riool

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:02 Tue, 12 Nov 2024

Regstappe kom: Potchefstromers enkeldiep in riool | News Article
Riool borrel gereeld uit mangate en syfer selfs in die aanliggende woonkomplekse in. Foto verskaf

JB Marks-munisipaliteit word gevra om dringend ’n oplossing te vind vir riool wat by woonkomplekse insypel.

Talle dele van Potchefstroom in Noordwes loop deur weens wanfunksionele rioolaanlegte. Dié probleem kom al geruime tyd aan, sê Alta Pretorius, AfriForum se Mooirivier-distrikskoördineerder.

Die plaaslike AfriForum-tak het JB Marks Maandag (11/11) in ’n brief gewaarsku oor die dringende gevolge as die munisipaliteit nie onmiddellik optree om ’n ernstige rioollekkasie langs Paryslaan in Bailliepark te herstel nie, sê Pretorius.

As die munisipaliteit nie teen Vrydag (15/11) ingryp nie, sal AfriForum “gedwing word” om regstappe teen die munisipale bestuurder te doen.

Foto verskaf

“Die mangate in die omgewing bied al geruime tyd probleme,” sê Pretorius, “aangesien riool gereeld daaruit borrel en selfs in die aanliggende woonkomplekse insyfer. Die situasie is so erg dat huise selfs deur die riool oorstroom word.”

AfriForum skryf dis onwettig om die situasie te laat voortduur, “aangesien dit ernstige gesondheidsrisiko’s vir die inwoners van die gebied inhou”, verduidelik Pretorius.

“By verdere ondersoek is ontdek dat daar ’n kontrakteur op die perseel is om die lekkasies aan te spreek, maar die werk het tot stilstand gekom omdat die span glo op opdragte van ’n bestuurder wag.”

Die werk het tot stilstand gekom omdat die span glo op opdragte van ’n bestuurder wag. Foto verskaf

Sy sê AfriForum vra die munisipaliteit moet onmiddellik hierdie opdragte verskaf sodat die herstelwerk afgehandel kan word. “Daar kan nie van inwoners verwag word om in toestande van rou riool te woon nie. Dit is ’n duidelike skending van hul regte, en AfriForum sal dit nie duld nie.”

OFM Nuus cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.