On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Anny
Listen Live Streams

Central SA

Bloemfonteinse uitsmyters eerste keer in streekhof

───   HEIDRÈ MALGAS 14:23 Tue, 12 Nov 2024

Bloemfonteinse uitsmyters eerste keer in streekhof | News Article
Westdene-kuierplek. Foto: Heidrè Malgas

Die drie uitsmyters van ’n Bloemfonteinse kuierplek wat na bewering ’n klant vermoor het, moet Woensdag (13/11) weer in die hof verskyn, nou vir die eerste keer in die streekhof.

Mpho Kedumetse Mphepuka (18), Simphiwe (Gorilla) Dlabu (27) en Justin Ayanda Horn (36) is op 5 Augustus op borgtog van R2 000 elk vrygelaat. Hulle is destyds op borgtog vrygelaat omdat al drie verdagtes werk, sterk familiebande het en geen vorige veroordelings het nie.

Die liggaam van die oorledene (43) is Maandag 22 Julie op die parkeerterrein oorkant The Other Venue in Tweedelaan, Westdene, gevind. 

‘Een van die aanvallers het op hom gespring’

Sosialemediagebruikers het daarna ontstoke gereageer op ’n video wat wys hoe vermeende uitsmyters ’n man aanrand. Daarin kan gesien word hoe die slagoffer geskop en met sy kop teen die teer oor die pad gesleep word.

Een van die aanvallers het ook op hom gespring. Hy is daarna na die oop parkeerterrein gesleep.

“Die oorledene was tydens die aanval in die geselskap van ’n ander man, wat daarin geslaag het om te ontsnap,” sê Thabo Covane, Vrystaatse polisiewoordvoerder.

‘Jy sleep ’n lewelose liggaam deur die pad en gooi dit net neer’

Bongani Zwane, een van die sosialemediagebruikers, se kommentaar lui: “Daardie uitsmyters was ‘onnodig’, onmenslik en barbaars in hul benadering. Uitsmyters is daar om ons te beskerm, nie om ons dood te maak nie. Hoekom baklei met iemand wat weghardloop, veral iemand wat dronk is?

“Erger nog, dis drie van julle teen ’n maer, lewelose liggaam. En selfs erger, jy sleep ’n lewelose liggaam deur die pad en gooi dit net neer; los die liggaam daar, en rapporteer nie eens hierdie voorval by wetstoepassers of jou base, die klubeienaars, nie.”

Die man saam met die slagoffer is nog nie opgespoor sedert die voorval nie.

OFM Nuus mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.