Central SA
Paul Sauer neem leisels oor by SAOU─── ELSABÉ DE JAGER 12:48 Fri, 04 Aug 2023
“Daar bestaan volle vertroue dat hierdie deurwinterde onderwysleier die huidige trajek van sukses na nuwe hoogtes sal voer.”
So sê Chris Klopper, uittredende leier van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), oor die vertroue wat onderwyskollegas in sy opvolger stel.
Paul Sauer (56), skoolhoof van Goudveld-Hoërskool in Welkom, is as die nuwe uitvoerende hoof van die SAOU aangestel. Hy het die afgelope vyf jaar ook as adjunkpresident van dié onderwysvakbond gedien. As raadslid by Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders en tans lid van die direksie van Finsa, die SAOU se finansieringsvennoot, het hy hom bewys as ’n ware leier in die korporatiewe bestuurswêreld.
Paul Sauer, nuwe uitvoerende hoof SAOU.
Met sowat 37 000 lede is SAOU een van die grootste vakbonde in die land. Op die afgelope driejaarlikse kongres wat in Junie in Pretoria plaasgevind het, is die visie vir die onderwystoekoms onder die tema “Toekomsgerig: Proaktiewe beplanning en vennootskappe” in diepte bespreek. Hoewel Klopper uitgetree het as uitvoerende hoof, bly hy betrokke by die SAOU om die oorgang vir sy opvolger makliker te maak.
Chris Klopper, uittredende uitvoerende hoof SAOU.
Sauer sê hy is opgewonde oor die nuwe hoofstuk wat voorlê. Dit is belangrik dat die SAOU ’n tuiste bied vir elke onderwyser, al benodig hy nie noodwendig arbeidsregte nie.
OFM Nuus