Central SA
Sand du Plessis-leerder steeds vermis─── ZENANDE MPAME 15:10 Wed, 02 Aug 2023
Sade Shakira Steenbok se ma sê haar dogter sou nooit die huis verlaat het sonder om te sê waarheen sy gaan nie.
Lorraine Steenbok het haar dogter die Maandagoggend laas gesien voordat sy werk toe is. Sade was geklee in haar pienk-en-grys pajamas met sterre. “My dogter het swart hare en oë met ’n litteken op haar voorkop. Sy het ook moesies op haar nek en wange.”
’n Buskaartjie is in Sade se kamer gevind wat wys dit is Vrydag (14/7) gekoop om Saterdag (15/7) te vertrek. Haar ma sê hulle was die Saterdag nog in die dorp om goed te koop.
“Ek dink iemand probeer my dogter se identiteit vervals,” sê Steenbok. Van Sade se klere, haar drasak, geboortesertifikaat, ID-kaart en twee selfone is weg. Lorraine het later agtergekom dat Sade se bankkaart ook weg is.
Sade Steenbok (18) van die Hoërskool Sand du Plessis word al twee weke vermis. Foto verskaf
“My dogter is ’n stil mens en ons praat oor alles, sy sal nie net die huis verlaat sonder om iets te sê nie. Dit is ook onveilig waar ons bly.” Die polisie het met die bure gepraat en hulle het niks gesien nie. Lorraine sê dit is vreemd want die strate is baie klein en ’n buurman van oorkant die straat kan alles sien wat aangaan.
Die dag toe sy vermis geraak het, het Lorraine by die huis gekom en alles was deurmekaar.
Enigeen met meer inligting oor Sade se verdwyning moet hul naaste polisiekantoor kontak.