On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Anny
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Noord-Kaapse paaie betyds vir blomseisoen herstel

───   07:54 Mon, 17 Jul 2023

Noord-Kaapse paaie betyds vir blomseisoen herstel | News Article
Die Noord-Kaapse LUR Fufe Makatong, tydens ’n oorsigbesoek om skade aan paaie in die Namakwadistrik te bepaal. Foto: Facebook/Departement van Paaie en Openbare Werke

Herstelwerk word beplan aan verskeie paaie in die Namakwadistrik in die Noord-Kaap, wat erg deur onlangse swaar reënval en gepaardgaande oorstromings beskadig is.

Die LUR van die Noord-Kaapse Departement van Paaie en Openbare Werke, Fufe Makatong, het die gebied besoek om die stand van padherstelwerk, alternatiewe roetes en ompaaie in die gebied te bepaal.

Distrik tot rampgebied verklaar

Vyf munisipaliteite in die Namakwadistrik, naamlik Richtersveld, Kamiesberg, Nama-Khoi, Hantam en Karoo Hoogland, het erg deurgeloop onder verwoestende oorstromings ná reënval wat bykans twee weke lank geduur het. Die distrik is op 3 Julie tot 'n plaaslike rampgebied verklaar.

Die Noord-Kaapse Departement van Paaie en Openbare Werke het die gebied besoek om die stand van die padnetwerk te bepaal. Foto: Facebook/Departement van Vervoer

Zandisile Luphahla, woordvoerder van die departement, sê in ’n verklaring LUR Makatong het ’n span tegnici en ingenieurs saamgestel om die skade wat aan die streek- en provinsiale padinfrastruktuur aangerig is te bepaal.

“Daar word onverpoos gewerk om sommige paaie te herstel deur bestaande hulpbronne te gebruik en ompaaie te maak wat veilig en rybaar is. Dit sal gemeenskappe in staat stel om te pendel en ekonomies aktief te wees,” sê LUR Makatong.

“Ons is onder enorme druk om die ekonomie van die distrik weer goed aan die gang te kry. Leerders van verafgeleë gebiede wat van skoolvervoer gebruik maak, moet sonder enige moeite skool toe kan gaan,” sê sy.

‘Blomseisoen is op hande’ 

“Die blomseisoen in Namakwa is op hande, en paaie wat reisigers met blomplekke verbind moet herstel word sodat toeriste die blomseisoen kan geniet.”

Die Noord-Kaapse Departement van Paaie en Openbare Werke vra motoriste om geduldig te wees. Foto: Facebook/Departement van Vervoer

Die departement het drie soorte skades aan paaie geïdentifiseer:

• geringe skade, waar die gruis of sand weggespoel het;

• minder ernstige skade, waar gate in die padoppervlak gevorm het en dreineringspype vervang moet word; en

• groot skade, waar 'n gedeelte van die pad weggespoel het.

Lede van die publiek word gevra om padskade aan te meld deur foto's en GPS-koördinate na die WhatsApp-nommer 066-581-5626 te stuur.

Motoriste word gevra om geduldig te wees en padreëls en waarskuwingstekens te gehoorsaam.

OFM Nuus

Die departement het ’n oorsigbesoek gedoen om skade aan paaie in die Namakwadistrik te bepaal. Foto: Facebook/Departement van Paaie en Openbare Werke

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.