Central SA
Rioolbesoedeling by Hartbeespoort ’n gesondheidsrisiko─── HEIDRÈ MALGAS 15:24 Mon, 26 Jun 2023
![Rioolbesoedeling by Hartbeespoort ’n gesondheidsrisiko Rioolbesoedeling by Hartbeespoort ’n gesondheidsrisiko | News Article](https://oscar.ofm.co.za/img/f2bd6c72-a06b-43e1-8878-dd5e23a5f4ec.jpg?crop=0,81,800,531)
Die ANC-beheerde Madibeng Plaaslike Munisipaliteit is onder druk omdat hulle nie die rioolstelsel onderhou nie, wat tot besoedeling in die Hartbeespoortdam en omliggende gebiede lei.
Die munisipaliteit het 'n versoek van die VF Plus ontvang dat die munisipale bestuurder, Sello Maroga, die dorp se rioolstelsel op uitnodiging moet kom inspekteer.
Tydens die inspeksie is verskeie probleme geïdentifiseer waar onbehandelde rioolwater uit mangate borrel en direk in die Hartbeespoortdam invloei.
Volgens die plaaslike, proporsionele verteenwoordigende raadslid van die VF Plus in die Madibeng Plaaslike Munisipaliteit in Hartbeespoort, Gullaume Clouston, het hulle gereeld klagtes ontvang die laaste paar maande oor veral die rioolstelsel se mangate wat oorloop en by verskeie plekke in die Hartbeespoortdam invloei.
“Ná volgehoue druk van die VF Plus, het ons die waarnemende munisipale bestuur gekry om saam met ons ‘n oorsigbesoek na te gaan. Die waarnemende munisipale bestuurder het erken dat een van die grootste redes is dat daar pompe by rioollyne was wat maande lank nie gefunksioneer het nie,”sê Clouston.
Hy sê die munisipale bestuurder het onderneem om die pomp dadelik te vervang en die lyne ook oop te laat blaas, maar tot op hede is die situasie steeds onveranderd.
“Ek het reeds die waarnemende munisipale bestuurder probeer kontak vir terugvoering maar nog geen terugvoering is ontvang nie.”
Clouston sê die VF Plus is bekommerd oor die impak van die waterbesoedeling en die potensiaal vir langtermynskade aan die omgewing, die gesondheid en welstand van huidige en toekomstige geslagte.
Die besoedeling van die dam en die omliggende ekosisteem stel die gesondheid van plaaslike mense in gevaar en lei tot 'n negatiewe impak op die plaaslike toerismebedryf. Toeriste begin die gebied vermy. Toerisme is die ruggraat van die gebied se ekonomie.
Die ANC-beheerde Madibeng Plaaslike Munisipaliteit word daarvan beskuldig dat hulle die rioolstelsel nie onderhou nie, wat die situasie versleg. Intussen bedreig die instroming van besoedelde water van Gauteng die dam en die ekosisteem en veroorsaak dit die plaat van waterhiasinte in die dam.
In reaksie op die situasie het die munisipaliteit 'n nuwe pomp geïnstalleer en hulle daartoe verbind om die hele rioolstelsel, insluitende die rioollekplek by die waterfront, te inspekteer.
Die VF Plus sal die vordering van herstelwerk monitor om te verseker dat die Madibeng-munisipaliteit sy beloftes gestand doen.