Central SA
Nuwe lied klink op in Orania─── 15:42 Fri, 09 Jun 2023
![Nuwe lied klink op in Orania Nuwe lied klink op in Orania | News Article](https://oscar.ofm.co.za/img/cd899563-c540-4722-b26e-b0c8bfe496f3.jpg?crop=0,43,800,493)
Orania is op soek na ’n nuwe volkslied van hoogstaande gehalte wat die toets van die tyd kan deurstaan.
Vroeg vanjaar is ’n kompetisie uitgeskryf om die beste lirieke en melodie vir ’n volkslied te vind, sê die direksielid van die Orania Kunsteraad (OKeR), Anje Boshoff.
Vir Carel van den Berg, ook ’n bestuurslid van OKeR, is ’n nuwe lied verteenwoordigend van die vooruitgang en ontwikkeling wat in Orania plaasvind. Die daaglikse uitleef van hoop in ’n geharde landskap soos die Karoo, eie aan Orania en sy mense, kan ook in die volkslied weerspieël word.
Vyf finaliste vir die liriekafdeling van die kompetisie is op 31 Mei aangekondig. Die digters en taalkundiges Daniel Hugo en Charl-Pierre Naudé het die beoordelaarspaneel bygestaan in die siftingsproses.
Hugo en Naudé is genader om twee aanlyn werksessies vir die finaliste aan te bied. Die eerste sessie waartydens die skrywers geleentheid kry om aan hul lirieke te skaaf, het Woensdag plaasgevind.
Boshoff sê dit was ’n opbouende, oop gesprek tussen aanbieders en deelnemers. Idees is uitgeruil en kommentaar oor elke gedig is positief ontvang. Die finaliste was dit eens dat hulle opgewonde is om ná die gesprek verder te gaan timmer aan hul lirieke.
In die tweede sessie in Julie word die lirieke finaal afgerond en gereed gekry vir bekendstelling en publikasie op Taaldag, 14 Augustus. Al vyf lirieke word daarna beskikbaar gestel vir die komposisie-afdeling.
Die finale wenners word in 2024 aangekondig.