Central SA
Die Afrikaanse Bybel vier sy 90ste bestaansjaar─── ELSABÉ DE JAGER 11:48 Mon, 29 May 2023
Vandag 90 jaar gelede, op 29 Mei 1933, ook ’n Maandag, kom ’n skeepsvrag van 10 000 eksemplare van die eerste Afrikaanse Bybel in Suid-Afrika aan. Talle geesdriftiges wag die Carnarvon Castle in Tafelbaai in.
Die aankoms van dié kosbare vrag op 1 Junie by die kantoor van die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap aan Groentemarkplein in Kaapstad het midde droogtetoestande en die ekonomiese nood van die Groot Depressie gesorg vir ’n ligpunt en hoop.
Die Carnarvon Castle waarmee die eerste vrag van 10 000 Afrikaanse Bybels van die drukkery in Engeland na Suid-Afrika verskeep is.
Afrikaanssprekendes het sedert die laat 1800’s uitgesien na ’n Bybel in hul moedertaal. Ná ’n proefuitgawe in 1922 word uiteindelik besluit op ’n vertaling uit die grondtale na die ware taal van die Afrikaanssprekende gemeenskap. As eindvertalers van die finale uitgawe was drr. J.D. du Toit (Totius) verantwoordelik vir die Ou Testament en J.D. Kestell vir die Nuwe Testament.
Du Toit en Kestell het tydens hul vertaalwerk deurentyd hul pogings aan mekaar gestuur. Hulle was onderskeidelik in Potchefstroom en Bloemfontein werksaam. Du Toit, bekend vir sy fyn humorsin, het tydens een van die moeilike vertalings opgemerk: “Job weier om Afrikaans te praat.”
Die eindvertalers van die 1933-vertaling van die Bybel in Afrikaans: dr. J.D. du Toit (Totius), prof. E.E. van Rooyen, dr. J.D. Kestell, proff. H.C.M. Fourie en B.B. Keet.
Op Sondag 4 Junie het Totius se halfbroer ds. C.M.W. du Toit waarskynlik die heel eerste keer by geleentheid van ’n erediens die Afrikaanse Bybel gebruik toe hy Psalm 133 en Hebreërs 10 voorlees in die Gereformeerde Kerk Kaapstad se kerksaal in Hofstraat (die kerkgebou is eers sowat 20 jaar later opgerig).
Op Sondag 27 Augustus 1933 is die Bybel amptelik deur die hele Suid-Afrika in ontvangs geneem. Die sentrale fees het in die Marksaal in Bloemfontein plaasgevind.
In 1952 verskyn die eerste hersiene uitgawe van die Bybel waarin tik- en setfoute reggestel en die taal effens aangepas is.
Totius se vertaling van Psalm 10 in sy eie handskrif.
Dr. Gerhard Lindeque, streekleier van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika, sê die Bybelgenootskap vier vanjaar die 90ste jaar van die Bybel in Afrikaans op 27 Augustus, die dag van amptelike bekendstelling.
Sedert 1933 het, benewens vertalings in die ander tien amptelike tale, reeds drie nuwe volledige Afrikaanse vertalings van die Bybel verskyn, waarvan die jongste in 2020.