On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Bloemfontein groet geliefde ouddiplomaat

───   ELSABÉ DE JAGER 16:16 Tue, 23 May 2023

Bloemfontein groet geliefde ouddiplomaat | News Article
Willem Basson. Foto verskaf

Die Vrystaatse hoofstad het ’n lojale en joviale vriend verloor met die dood van die voormalige ambassadeur Willem Bosman die afgelope Donderdag (18/5) in die ouderdom van 88 jaar.

As diplomaatspaar het Bosman en sy vrou, Heleen, se pad deur Australië en Nederland geloop tot in Noorweë, waar hy die ambassadeursamp van 1988 tot 1992 beklee het.

Ds. Jan Lubbe van die NG Gemeente Berg-en-Dal in Bloemfontein onthou Bosman as ’n vriend wat Nederlands, Duits en Sotho magtig was. Hy en Heleen het hulle liefde vir musiek geniet en gedeel.

Ná hul oudste seun Arnold, ’n internasionale dirigent, se dood in 2005, het hulle in samewerking met die Universiteit van die Vrystaat die jaarlikse Bosman-gedenkkonsert van stapel gestuur.

Lubbe sê die vroeë dood van sy twee seuns, Arnold en Willem, asook Heleen se skielike afsterwe in 2019, het Bosman gebroke maar steeds blymoedig gelaat. Enduit was hy ’n leier wat altyd tyd gemaak het vir ’n grap.

Vriendelikheid, nederigheid en dankbaarheid was wesenlik ’n deel van dié diep godsdienstige man.

Ds. Barnard Steyn, jare lange vriend van Willem Bosman, dink met dankbaarheid terug aan ’n vriend wat altyd wou dien.

Die begrafnis vind op 2 Junie vanuit Berg-en-Dal se kerkgebou in die voorstad Dan Pienaar plaas.

OFM Nuus


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.