Central SA
Neem 'n selfie met Polony die Donkey by Upington-skou─── HEIDRÈ MALGAS 11:20 Fri, 05 May 2023
Een van die sterre van Upington se jaarlikse landbouskou, Polony die Donkey, gaan vanjaar weer besoekers met sy teenwoordigheid vermaak.
Ansori Badenhorst vertel dat haar pa destyds dié donkie, toe sowat vyf maande oud, agterop ‘n trok opgemerk het. Die trok was op pad slagpale toe en hulle het gewonder of daar dalk polonie van hom gemaak sou word.
“My pa het hom só jammer gekry. Hy het ’n groot liefde vir donkies. Hy het ’n skaap vir die donkie geruil en hom grootgemaak soos ’n kind,” vertel Badenhorst.
Sy sê hulle spot dat Polony ’n ‘celebrity’ is – hy het selfs sy eie Facebookblad waar hy allerhande sêgoed kwytraak.
“Polony kom elke jaar skou toe waar hy ’n groot geraas tussen die perdestalle maak. Só lok hy mense want almal hoor die donkie en wil weet hoekom lawaai hy so,” sê Badenhorst.
Sy sê Polony is soos ’n sekuriteitswag - wanneer een van die ander donkies besig is om te vul, maak hy alarm, hy hardloop op en af en gaan staan by haar ouers se huis en roep hulle totdat hulle uitkom.
“Hy is ’n mak donkie, baie lief vir mense, baie lief vir aandag en baie lief vir praat.”
Polony het intussen vir hom ’n vrou, Mayonnaise, aangeskaf en die paartjie is die trotse ouers van Dumpling, hul eersteling. Vanjaar bring Polony sy hele gesin saam skou toe.
Vir meer oor Polony en sy pittige sêgoed, besoek sy Facebookblad, Polony die Donkey.
OFM News