On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret, John and Nadine
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Central SA

Geselskap gesoek vir kameelperdbulletjies

───   ZENANDE MPAME 08:11 Wed, 15 Mar 2023

Geselskap gesoek vir kameelperdbulletjies | News Article
FOTO'S: Morgan Piek

Die natuurbewaringsgroep Vriende van Franklin-Naval Hill wag op finale goedkeuring om twee vroulike metgeselle te hervestig vir die kameelperdbulletjies in dié wildreservaat by die middestad van Bloemfontein.

Die Vriende van Franklin se Andri Grobbelaar sê die wildreservaat erken twee kameelperdkoeie is nodig om die bulle geselskap te hou. Die projek duur al drie jaar. Hulle wag nou op invoerpermitte.

In Maart 2022 het Naval Hill een van sy oudste en mees geliefde “inwoners” verloor. Masabatha, die kameelperdkoei, het in ’n sloot geval. Alle pogings om haar lewe te red, was vergeefs. Masabatha was die ma van die oorblywende twee kameelperdbulle.

LEES OOK: Naval Hill loses a beloved ‘resident’

Grobbelaar, wat tydens die voorval aan die voet van die heuwel gewoon het, was in haar tuin doenig toe sy ’n harde geluid hoor. Toe sy gaan ondersoek instel, het sy die kameelperd in ’n sloot gesien.

Die Bloemfonteinse DBV is ontbied, en lede van die publiek en Mangaung se brandweer het haar tevergeefs probeer red.

“Dit was een van die redes waarom ons besluit het ons kort nog kameelperde op Naval Hill, want al het ons nie geweet sy sou ons so verlaat nie, het ons besef dit sou weens haar ouderdom vroeër of later gebeur,” het Grobbelaar ná Masabatha se dood gesê. 

Sy het bygevoeg hulle sien daarna uit om die nuwe kameelperde te verwelkom.


Op 9 Maart is altesaam 33 blouwildebeeste en 10 sebras gevang en verplaas deur ’n professionele wildvangspan, soos goedgekeur deur die metro. Sowat twaalf blouwildebeeste en tien sebras bly oor.

Hierdie optrede sal help met die rehabilitasie van grasveld/veldgesondheid in die Franklin-wildreservaat. Die Vriende van Franklin-Naval Hill Natuurbewaring, ’n organisasie sonder winsoogmerk, ondersteun hierdie wildbestuursaksies, wat ook in 2022 in ’n verslag aan die metro voorgestel is om ’n ekologies stabiele omgewing en geneties gesonde wildbevolkings te bevorder. So word die ekotoerismebedryf in Bloemfontein beskerm.

OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.