On Now
Weekdays 23:00 - 23:59
Overnight Oscar
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Central SA

Parys: Sakelui, AfriForum soek werkbare waterplan

───   08:16 Thu, 09 Mar 2023

Parys: Sakelui, AfriForum soek werkbare waterplan | News Article
Parys se swak waterinfrastruktuur noop inwoners om daagliks water by gemeenskaplike krane te gaan haal. FOTO: Groundup/Facebook

Die burgerregte-organisasie AfriForum het Woensdag, 8 Maart 2023 ’n vergadering met sakelui van Parys gehou om ’n oplossing vir die dorp se voortslepende waterprobleme te vind.

Die vergadering volg nadat die krane in Parys vroeg in 2023 weereens drooggeloop het en inwoners sedertdien voortdurende wateronderbrekings moet verduur.

Op die vergadering is besluit dat 'n waterforum, bestaande uit gemeenskapslede en organisasies, op die been gebring sal word om 'n volhoubare plan vir watersekerheid op te stel en van stapel te stuur.

AfriForum se regspan het in 2022 twee dringende hofaansoeke teen die Ngwathe- munisipaliteit ingedien oor die swak bestuur en kwaliteit van die dorp se water.

Die situasie het só versleg dat woedende gemeenskapslede in Januarie die strate ingevaar het en die dorp met grootskaalse betogings tot stilstand gebring het.

Die Waterinstituut van Suider-Afrika (Wisa) se dr. Marlene van der Merwe-Botha, sê die infrastruktuur van Parys is 'n enorme kwessie wat bydra tot die voortdurende waterprobleme in die dorp.

"Die waterinfrastruktuur is kommerwekkend. Ons sien die gevolge van die onderbreking van die watertoevoer na die gemeenskappe asook die afname in die watergehalte. Die oplossing lê daarin dat plaaslike owerhede hande vat met die private sektor en saamwerk om hierdie probleem op te los," sê sy.

AfriForum se streekhoof, Jaco Grobbelaar, sê die vergadering is gehou om die gemeenskap se insette te kry en ‘n plan te beraam vir volhoubare watervoorsiening vir die dorp in die toekoms.

“AfriForum se Parys-tak het verskeie besighede genader en planne voorgelê wat die gemeenskap in staat sal stel om die huidige probleme op te los. Die gemeenskap moet self begin planne maak, aangesien selfbestuur van water die enigste manier is waarop Parys weer deurlopende skoon water sal hê,” sê hy.

“Ons sal voortgaan om druk op die munisipaliteit te plaas om dienslewering te verbeter. Die munisipaliteit verwag dat inwoners elke maand hul rekeninge moet betaal. Dit is tyd dat ons verantwoordelikheid vir ons dorpe neem.”

OFM-nuus


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.