On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Mark
Listen Live Streams

Central SA

'Help keer dat kosbare beeld van Paul Kruger skrootmetaal word' – FAK

───   15:26 Mon, 06 Feb 2023

'Help keer dat kosbare beeld van Paul Kruger skrootmetaal word' – FAK | News Article

Die FAK sê hulle kan nie vier beelde van onskatbare historiese waarde sonder die publiek se hulp opspoor nie.

Die kultuurorganisasie het op Vrydag 3 Februarie 2023 verneem van die diefstal by die Kedar Heritage Lodge by Rustenburg van die beelde, waaronder ’n borsbeeld van pres. Paul Kruger.

Die lodge is geleë op die plaas Boekenhoutsfontein, wat aan die laaste president van die ZAR behoort het en waar sy woonhuis bewaar word. “Die Rustenburgse gemeenskap ken die plaas en die lodge baie goed,” sê FC Pelser, FAK-kommunikasiebeampte. “Dit is ’n baie bekende toeristeaantreklikheid in die dorp.”

Hy sê dis vir die FAK “ongelooflik belangrik om daardie beelde terug te bring na hulle regmatige tuiste. Daarom het ons kultuurnetwerke in die noordelike provinsies van die begin af kontak gemaak met Sarah Forsyth, die eienaar van die lodge, en gehoor wat haar behoeftes is in haar soektog na die beelde.”

Hy sê die federasie se kultuurnetwerke doen selfs tot in Krugersdorp navrae en vra dat mense hulle ore op die grond hou, soek by plekke soos skrootwerwe, pandjieswinkels … enige plek waar hierdie beelde moontlik kan beland.

Die polisie is etlike ure ná die diefstal gekontak. Hulle is ook besig om te soek.


“Ons doen ’n beroep op die gemeenskap om met ons hande te vat,” sê Pelser, “want dis so ongelooflik belangrik dat ons ons kultuurerfenis bewaar vir die komende geslagte. So ’n diefstal is ’n geweldige terugslag vir erfenisbewaring en die bewaring van ons kultuur.”

Hy vertel toe die FAK met Forsyth kontak maak, het sy gesê hoe hartseer sy oor die diefstal is. “Sy het gesê sy kon nie glo dat iemand ’n stuk erfenis sal steel en nie besef wat die waarde daarvan is nie, want dis nie iets wat verkoop kan word nie; dis tien teen een iets wat iewers skrootmetaal gaan word, en dis juis iets wat ons wil verhoed.”

Daar is foto's op die FAK se Facebook-blad van die Paul Kruger-borsbeeld en die sogenaamde Man in Brons, ’n kosbare uitbeelding van ’n soldaat, en twee metaalleeus, wat uit dieselfde era as die bronsbeeld dateer. Van húlle is ongelukkig nie foto’s beskikbaar nie.

“Asseblief, as enigiemand dalk iets wysraak, onraad vermoed of enigiets hoor,” sê Pelser, “kontak die Voortrekkermonument by 012-326-6007, of kontak vir Freddie Hardman van die FAK se kultuurnetwerk by 062-803-3780 of Sarah by 071-858-4498.”

OFM-nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.