On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with Anny
Listen Live Streams

Central SA

De Oude Kraal-sjef sterf

───   BAMBATHA GIKO 18:24 Wed, 01 Feb 2023

De Oude Kraal-sjef sterf | News Article
De Oude Kraal het in 2018 vir die 13de keer ’n American Express Fine Dining-toekenning ontvang. Van links is Marie-Louise Nel (dogter van die eienaars), Marie en Gerhard Lombard (eienaars van De Oude Kraal). FOTO: Bloemfontein Courant

Die 36-jarige Marie-Louise Nel van die bekende Bloemfonteinse gasteplaas De Oude Kraal Country Estate and Spa is deur familie dood op die plaas aangetref.

Nel, ‘n dogter van die eienaars, Marie en Gerhard Lombard, was die bestuurder en sjef van die familieonderneming. 

De Oude Kraal is bekend vir sy mooi uitsigte, vriendelike diens, heerlike kos, spa en veral die wildskosfees. Die instansie het al verskeie toekennings gewen, onder meer die American Express Fine Dining-, die Platinum Diners Club- en ook Bloemfontein Courant se Best of Bloem-prys. Die gasteplaas het ook twee sterre verwerf omdat hulle langer as 10 jaar reeds die American Express-toekenning ontvang het. Hulle is daarna met die Black Apron-toekenning bekroon, volgens Bloemfontein Courant.

Intussen stroom huldeblyke op sosiale media in vir Nel.

Ronel le Roux skryf De Oude Kraal sal nooit weer dieselfde wees nie, “want jy, liefste Marie-Louise Nel, wás De Oude Kraal. Jy gaan terdeë gemis word. Mag Jy nou jou vrede vind by Pappa God se voete”.  

Nel se ouers is tans op ‘n boottoer in die Bahamas waar hulle die slegte nuus ontvang het. Volgens Netwerk24 kan hulle op die vroegste eers oor twee dae terug na Suid-Afrika vertrek.

Central Media Group se voormalige Mahareng-bestuurder, Christel Basson, het geskryf: “Jou lag sal weerklink in die eggo van De Oude Kraal se wind. Die geure van jou menswees was vervat in smake en die kunswerk van jou hand en hart.

“Vir elkeen wat die voorreg gehad het om jou te ken was dit gewis 'n wen.

“Jou haastige stap en organiseer van hartsdae vir ander sal wees 'n herhalende onthou brander. Ek onthou jou kunswerk-koek net nou die dag toe ek verjaar. Jou liefde in jou handewerk gebaar. Ek is so jammer jou pyn was so swaar. Ons mis jou klaar!”

In ‘n ander Facebook-inskrywing het die voormalige redakteur van Bloemfontein Courant Maricelle Botha gesê: “Ons lewens het te vinnig geword. Ons stel net oppervlakkig belang. Ons is blind vir mense se werklike swaarkry en eensaamheid te midde van skares mense. Ons glo al die idilliese bog op sosiale media. Ons mis die groter prentjie. My hart is vandag diep seer.”

Nel word ook oorleef deur haar man, Jan-Hendrik Nel, twee jong kindertjies – Emma (4) en Henco (2) – en haar susters Carmen-Ann en Helen-Joan.

Die polisie vermoed geen misdaad nie. Die begrafnisreëlings is nog nie bekend nie.

OFM News

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.