On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Classic Sundays Christie
NEXT: 16:00 - 19:00 All Request Sunday with Nikki
Listen Live Streams

Central SA

Jong man 12 uur ná ongeluk dood aangetref

───   21:00 Sun, 29 Jan 2023

Jong man 12 uur ná ongeluk dood aangetref  | News Article
Luan Nel (22), 'n boerseun van Aberdeen in die Oos-Kaap, is Saterdag dood aangetref in die parkeerterrein van 'n winkelsentrum in Bloemfontein nadat hy glo ure lank verward rondgedwaal het.

’n Jong man van Bloemfontein is Saterdag dood aangetref in die parkeerterrein van ’n winkelsentrum in die stad, sowat twaalf uur nadat hy in ’n motorongeluk was waarin hy vermoedelik ’n hoofbesering opgedoen het.

Luan Nel (22), ’n oud-Kovsie wie se familie by Aberdeen in die Oos-Kaap boer, se motor het die oggend tussen 01:00 en 02:00 gerol op die Abrahamskraalpad aan die westekant van die stad. Hy was alleen onderweg.

Sy suster Lizelle Nel, by wie Luan die nag sou oorgeslaap het, vriende en familie het vroeg die oggend na hom begin soek. Eindelik het hulle sy motor langs die pad gekry.

Intussen het vriende vir Luan opgelaai waar hy verward te voet op pad was in Langenhovenpark se rigting. Hy is saam met hulle na hul huis in dié voorstad en het ’n ruk lank daar geslaap. 

Sané van Dyk en Lizelle Nel, by wie hy die nag sou oorgeslaap het. FOTO: Facebook

Sané van Dyk en Lizelle Nel, by wie hy die nag sou oorgeslaap het. Foto: Facebook

Luan het omstreeks halfsewe wakker geword en vir die vriende gesê dat Lizelle hom sou kom haal. Hy was steeds deurmekaar. Daarna het hy blykbaar heeloggend in die stad rondgedwaal en eindelik na Mimosa Mall toe gegaan, waar hy omstreeks 12:45 dood aangetref is. 

Polisiewoordvoerder Thabo Covane sê 'n veiligheidswag het op hom afgekom. Geen misdaad word vermoed nie.

Sy naasbestaandes is eers ná drieuur die middag in kennis gestel.

Lizelle het aan Netwerk24 gesê Luan het opgewonde daarna uitgesien om in Maart in die VSA te gaan boer. Intussen het hy sy pa, Jan, op hul plaas by Aberdeen met die boerdery gehelp.

Luan, wat op 29 Augustus verlede jaar 22 geword het, is ’n oudleerder van die Hoërskool Volkskool op Graaff-Reinet en het ná skool in Bloemfontein aan Kovsies studeer.

Luan Nel saam met sy ouers, Jan en Christelle, en susters, Sané van Dyk (links) en Lizelle Nel. Die Nels boer by Aberdeen. Al drie kinders was in die Hoër Volkskool op Graaff-Reinet, waar Luan einde 2018 gematrikuleer het.

Luan Nel saam met sy ouers, Jan en Christelle, en susters, Sané van Dyk (links) en Lizelle Nel. Die Nels boer by Aberdeen. Al drie kinders was in die Hoër Volkskool op Graaff-Reinet, waar Luan einde 2018 gematrikuleer het.

Naasbestaandes en vriende van die familie beskryf hom op Facebook as ’n gewilde jong man met ’n aansteeklike lag, iemand oor wie almal mal was. Hy word onthou as 'n “uitsonderlik aangename” jong man.

Hy word ook oorleef deur sy suster Sané van Dyk en sy ma, Christelle.

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.