Central SA
Kimberley gevra om water te spaar ondanks hitte, herstelwerk─── 07:53 Tue, 20 Dec 2022
Inwoners van die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley is gevra om water spaarsamig te gebruik. Die versoek kom te midde van uitermatige hitte terwyl herstelwerk aan die Riverton-suiweringsaanleg se pompe voortduur.
Die munisipale woordvoerder, Thoko Riet, sê tegniese spanne is besig met herstelwerk wat daartoe bydra dat die waterlewering-kapasiteit drasties afgeneem het. Inwoners in hoogliggende gebiede het tans geen water nie.
Sy sê watertenks word ingespan om gebiede, waarvan sommiges vir die vierde agtereenvolgende dag geen water het nie, van water te voorsien.
Hospitale, klinieke en kettingwinkels in die stad kry voorkeur.
Riet sê die munisipaliteit word oorval met oproepe rakende die waterkwessie en sy verseker inwoners dat daadwerklike pogings aangewend word om die krisis by te lê.
Sy voeg by dat normale watertoevoer sal terugkeer namate die dag verloop.
Sy wys inwoners daarop dat die water moontlik 'n kleur sal hê weens sandsediment, maar die kleur sal na normaal terugkeer sodar dit begin vloei.
OFM-nuus/Roderick Titus