Central SA
Koffiefontein-leerling vandag in hof weens skroewedraaier-moord─── 10:32 Wed, 23 Oct 2019
![Koffiefontein-leerling vandag in hof weens skroewedraaier-moord Koffiefontein-leerling vandag in hof weens skroewedraaier-moord | News Article](https://oscar.ofm.co.za/img/fr_20191023103329.png?w=600&h=300&mode=crop&anchor=middlecenter&scale=both)
Die graad 10-leerder wat na bewering verlede week sy klasmaat met ‘n skroewedraaier doodgesteek het by Reikaeletse Sekondêre Skool in Koffiefontein in die Vrystaat, sal vandag in die Koffiefontein Landdroshof verskyn.
Dit kom nadat die oorledene, Lungelo Khathane, na bewering ‘n argument met die verdagte gehad het, wat daartoe gelei het dat Khathane met die voorwerp gesteek is en later in die Pelonomi-hospitaal weens die omvang van sy beserings dood is.
‘n Gedenkdiens is gister deur medeleerlinge en rugby– en vlugbal-spanmaats gehou. Khathane sal na verwagting Saterdag begrawe word.
OFM-nuus het vroeër berig dat nog 'n leerling in die Vrystaat gister hospitaal toe gehaas is nadat hy deur 'n medeleerder by Laerskool Monamodi in Brandfort in Lejweleputswa met 'n skêr gesteek is. Die woordvoerder van die departement van onderwys, Howard Ndaba, het gister aan OFM-nuus gesê die departement is woedend oor die vlaag van geweld by verskillende skole in die provinsie en is baie bekommerd oor die geweld onder leerders.
OFM-nuus/Elsabé Richard