Business
'Payshap bevorder oorgang na kontantlose samelewing'─── 14:31 Mon, 13 Mar 2023
’n Nuwe betaalplatform wat Maandag in Johannesburg bekendgestel is, sal Suid-Afrikaners in staat stel om onmiddellik geld van enige van die land se vier groot banke te ontvang – sonder dat ’n bankrekening nodig is.
Payshap, wat deur die Suid-Afrikaanse Reserwebank gesteun word, sal slegs ’n gebruiker se selfoonnommer benodig om kontant binne ’n kwessie van sekondes oor te plaas en te ontvang.
Dié toepassing (of app) is ontwerp deur Bankserv Africa. Die maatskappy se Mpho Sadiki sê die nuwe betaalstelsel sal verseker dat geld onmiddellik van een bank na ’n ander geskuif word.
“Die Suid-Afrikaanse bankbedryf, Bankserv Africa, het saamgewerk om hierdie nuwe betaalplatform te bou wat dit moontlik maak om geld onmiddellik van een bank na ’n ander te beweeg.
“Payshap sal ’n bruikbare betaalstelsel wees wat al die banke verbind. As ek vir jou geld na jou selfoonnommer stuur, maar ons bank by verskillende banke, hoef jy nie na die bank te gaan vanwaar ek vir jou geld gestuur het om die kontant te onttrek nie. Dit is die groot verskil tussen Payshap en ander dienste.”
Jan Pilbauer, uitvoerende hoof van Bankserv, voeg by dat oordragkoste na verwagting ook laer sal wees.
“Jy sal binne tien sekondes geld kan stuur hopelik teen ’n lae koste vir die eindgebruikers. Jy sal geld kan betaal deur dit reguit na die selfoon te stuur in plaas van om ’n bankrekeningnommer te gebruik.”
Adjunkpresident van die Suid-Afrikaanse Reserwebank, Fundi Tshazibana, sê die bekendstelling van die nuwe betalingstelsel is in ooreenstemming met die Reserwebank se 2025-visie. “Ons het ook ’n visie vir die betalingstelsel wat ons Vision 2025 noem, wat daarop ingestel is om vinniger, doeltreffender en meer bekostigbare en inklusiewe betaaldienste vorentoe te hê. Ons wou weet dat dit met die ontwerp van Payshap al hierdie elemente in ag sal neem.”
Sy voeg by dat Payshap nog ’n stap in die rigting van ’n “kontantlose samelewing” is.
“Stel jou voor as jy op die taxi kon klim en terwyl jy werk toe pendel hoef jy nie kontant te hê nie. Al daardie dinge gaan ons na ’n kontantlose samelewing beweeg. Ek bedoel jy kan nie kontant heeltemal uitroei nie, want as tegnologie nie werk nie, gaan jy ’n alternatief nodig hê. Maar ons strewe dat in die volgende paar jaar, dít is waar ons as ’n land gaan wees.”
OFM-nuus