On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

South Africa

Vermeende stroper in Krugerwildtuin vertrap; verdere ondersoeke só bemoeilik

───   11:11 Tue, 21 Jan 2025

Vermeende stroper in Krugerwildtuin vertrap; verdere ondersoeke só bemoeilik | News Article
Sanparke waarsku mense wat die gebied onregmatig betree. Foto: Facebook/Thokozani Phakathi (ter illustrasie)

Die polisie vra sosialemediagebruikers moet ophou foto’s versprei van ’n vermeende stroper se liggaam nadat ’n seekoei hom doodgetrap het.

’n Toeris het Maandag (20/1) op sy liggaam afgekom waar dit langs die pad in die Pretoriuskop-ruskamp in Mpumalanga gelaat is.

Nadat die toeris die liggaam bedek het, is die Krugerwildtuin se bestuur in kennis gestel, sê Isaac Phaahla, Sanparke-woordvoerder. “Die betrokke wetstoepassers en patoloë is laat weet, en die toneel is beveilig.”

Sanparke sê onbevestigde berigte dui daarop dat drie voornemende stropers die wildtuin in die nag van Sondag op Maandag onwettig binnegekom het om ’n misdaad te pleeg. “Hulle is vermoedelik deur ’n seekoei aangeval, en een is noodlottig beseer.”

Seekoeie word beskou as Afrika se gevaarlikste soogdiere. Foto: Facebook/Tomasz Zielonka (ter illustrasie)

Die ander twee het blykbaar die liggaam van hul makker tot by die pad gedra, waar die besoeker aan die wildtuin daarop afgekom het.

Phaahla sê die polisie ondersoek die voorval. “Die bestuur doen ’n beroep op diegene wat foto’s van die liggaam geneem het, om dit nie op enige sosialemediaplatform te deel nie. Dit is onsensitief en kan verdere ondersoeke bemoeilik.”

Sanparke waarsku mense wat die Krugerwildtuin onwettig binnegaan dat hulle pad met wilde diere sal kruis en dat hul deur veldwagters en veiligheidspersoneel in hegtenis geneem sal word.


’n Geregtelike doodsondersoek is geopen, sê brig. Donald Mdhluli, Mpumalanga-polisiewoordvoerder, en vra lede van die publiek met enige inligting om na vore te kom.

• In Augustus 2023 is Kobus de Wet (63), ’n senior ondersoeker in Sanparke se ondersoekeenheid vir omgewingsmisdaad, deur ’n seekoei in ’n afgeleë deel van die Krugerwildtuin om die lewe gebring terwyl hy saam met ander mense kampeer en visgevang het.

• In Julie het Rinza Venter (67) ’n nagmerrie-ondervinding beleef toe sy in die noorde van die Krugerwildtuin deur ’n woedende seekoeibul gebyt en getrap is.

Freek en Rinza Venter. Foto: Facebook

• Sy en haar man, dr. Freek Venter (71), was saam met ’n span navorsers in die wildtuin toe die seekoei hulle helder oordag bestorm het. ’n Veldwagter het op die dier geskiet en hy het gevlug. Venter is daarna in die waakeenheid in die Mediclinic in Tzaneen opgeneem.

• Die vorige maand is drie werknemers van die Werk vir Water-projek deur ’n seekoei bestorm en aangeval. Hulle was besig om indringerplante aan die oewers van die Sabierivier te verwyder. Twee veldwagters wat die groep vergesel het, het skote op die seekoei afgevuur waarna dit terug na die rivier gevlug het. 

Die beseerdes is na ’n nabygeleë hospitaal geneem met “ernstige maar nie lewensgevaarlike” beserings.

OFM Nuus/Christine van der Westhuizen cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.