South Africa
Meer padsterftes dié feestyd stel vervoerminister teleur─── 12:58 Mon, 20 Jan 2025
Hef aan lê nog voor om die slagting op Suid-Afrika se paaie te bekamp.
“Asof nuusberigte oor verskriklike botsings en die gevolglike sterftes en beserings dagin en daguit dié feestyd nie erg genoeg was nie,” sê die minister van vervoer, “wys die syfers ons Suid-Afrikaanse padgebruikers verontagsaam steeds padreëls sonder om menselewens in ag te neem, met tragiese gevolge”.
Barbara Creecy het Maandag (20/1) tydens die bekendmaking van 2024/2025-feestyd se padongeluksyfers statistiek aangehaal om “die skokkende gebrek aan respek vir die padreëls” te beklemtoon. Wetstoepassers het byvoorbeeld landwyd 711 184 boetes vir verkeersoortredings uitgereik.
Announcement of the Preliminary 2024/2025 Festive Season Road Fatality Statistics https://t.co/n0IngfkWmO #ArriveAlive #FestiveSeason #RoadFatalities@Dotransport @TrafficRTMC pic.twitter.com/qsVfGKr7nV
— Arrive Alive (@_ArriveAlive) January 20, 2025
Meer as 23 600 bestuurders is beboet omdat hulle nie hul veiligheidsgordel gedra het nie en amper 17 000 is beboet omdat hulle hul selfoon in die ry gebruik het. Meer as 3 800 vermeende dronkbestuurders is aangekeer.
Creecy sê altesaam 414 spoedvrate is in hegtenis geneem, van wie vyf vinniger as 200 km/h en selfs bó 240 km/h gery het. Die ergste geval was in Gauteng waar ’n jaagduiwel op 18 Desember met ’n BMW-sedan op die N1 naby Honeydew 245 km/h gery het.
“Namens die nasionale vervoerdepartement, provinsiale LUR’s en hul departemente, asook alle wetstoepassingsagentskappe vra ek die howe moet hierdie gevalle met die erns behandel wat hulle verdien,” het Creecy gesê.
Altesaam 1 502 mense het hul lewe vanaf begin Desember in 1 234 ongelukke verloor, het die minister bekendgemaak. Dit is 70 of 5,3% meer as in die vorige feestyd, terwyl die getal noodlottige botsings met 50 of 4,2% toegeneem het. “Dit is betreurenswaardig, des te meer omdat dit die vordering in die laaste jare ongedaan maak.”
Jaar op jaar het ses provinsies, waaronder die Noord-Kaap, Noordwes en Vrystaat, ’n toename in hul padsterftesyfer aangeteken. In die Vrystaat is 70 meer mense as in die 2023/2024-feestyd dood. Die enigste afnames was 76 in Gauteng, 23 in die Wes-Kaap en 14 in Mpumalanga.
“Voetgangersterftes bly ’n groot bekommernis,” het Creecy gesê. Sowat 41% van alles padsterftes was voetgangers. In Gauteng, die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal was die persentasie voetgangersterftes uit die totale getal padsterftes die hoogste.
Top 10 Tips for Defensive Driving this Weekend! https://t.co/ala4oqXJ9K #ArriveAlive #RoadSafety@Dotransport @TrafficRTMC pic.twitter.com/0hpcu4RpzU
— Arrive Alive (@_ArriveAlive) January 18, 2025
“Die voorlopige syfers is uiters ontstellend, maar hierdie syfers op papier vertel ons niks van die menslike storie nie, van die tragedies wat soveel families landwyd getref het, van die pyn van die verlies van ’n geliefde in ’n padongeluk.”
Sy meen dis selfs ontstellender dat die meeste botsings en sterftes aan menslike faktore toegeskryf kan word. “Om presies te wees, 87% van ongelukke het weens menslike optrede gebeur, waaronder tref-en-trapongelukke, bontlopery, uitputting, verlies van beheer oor voertuie, spoed, dronkbestuur en roekelose verbystekery.”
FESTIVE SEASON ROAD SAFETY CAMPAIGN REPORT
— Department of Transport (@Dotransport) January 20, 2025
Tragically, South Africa witnessed 1,502 deaths resulting from 1,234 fatal
crashes during the 2024/25 festive season. #ArriveAlive pic.twitter.com/wnusZ8Ro84
Die Vrystaat, Noordwes en Noord-Kaap is onderskeidelik sewende, agtste en negende wat padsterftes sowel as noodlottige ongelukke betref, naamlik 106 in 81 botsings, 100 in 87 en 63 in 45. Die meeste padslagoffers was in KwaZulu-Natal (304), Gauteng (235) en die Oos-Kaap (231).
Creecy sê ondanks die toename in padsterftes bly haar departement daartoe verbind om wetteloosheid en gevaarlike bestuurspraktyke te bekamp. “Ek wil vra dat motoriste sorg en geduld aan die dag lê op ons paaie, maar terselfdertyd moet oortreders weet wetstoepassers sal aanhou toeslaan op diegene wat nie omgee vir ander se lewe nie.”
OFM Nuus cg/mvh