On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret, John and Nadine
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Other News

22 Vrystaatse karateka gekies vir Wêreldkampioenskap in Japan

───   HEIDRÈ MALGAS 13:17 Thu, 10 Oct 2024

22 Vrystaatse karateka gekies vir Wêreldkampioenskap in Japan | News Article
Karateka van die Vrystaat wie Suid-Afrika volgende jaar verteenwoordig op die Gojukai-karate-wêreldkampioenskap in Chiba, Japan. Foto verskaf

Minstens 22 karateka van die Vrystaat gaan Suid-Afrika volgende jaar verteenwoordig op die Gojukai-karate-wêreldkampioenskap in Chiba, Japan.

“Ek is ongelooflik trots op elkeen van hulle,” sê hul afrigter, Louis Kritzinger. “Hierdie span sal die grootste wees wat die Vrystaat al ooit oorsee gestuur het. My hart bars van trots.”

Vir van die spanlede is die vooruitsig nog onwerklik. “Ek kan dit steeds nie glo nie,” sê Zydon Coetzee (15) wat dojo begin beoefen het toe hy ses was en deesdae vyf keer per week oefen.

“Dis regtig ’n groot voorreg. Ek is baie gelukkig en dankbaar vir die geleentheid.”

‘Daar sal veel meer tyd en ekstra oefening ingesit moet word’

Spanlede moes medaljes verower op die nasionale kampioenskap in Augustus in Bloemfontein om gekies te word.

“Ons voorbereiding vir die wêreldkampioenskap begin vroeg in Januarie,” vertel Kritzinger. “Daar sal veel meer tyd en ekstra oefening ingesit moet word, en daar sal ook baie werk gedoen moet word om al die studente emosioneel en geestelik reg te kry.”

Spanlede moes medaljes verower op die nasionale kampioenskap in Augustus in Bloemfontein om gekies te word. Foto verskaf

Van die uitdagings wat die span die hoof moet bied, is die onbekendheid van ’n vreemde land en die verandering in klimaat wat beslis ’n groot rol sal speel. “Die laaste paar maande se oefening hier by ons sal baie koud wees, maar in Japan is dit dan baie warm en vogtig; so die aanpassing gaan beslis vir party ’n groot uitdaging wees.”

Hy sê hulle sal veral konsentreer op basies tegnieke. “Dis beter om een tegniek duisend keer te oefen as om duisend tegnieke een keer te oefen.

“Repetisie sal dus ’n groot deel van die opleiding uitmaak, tesame met spanwerk en geesbou.”

‘Spanlede is self vir die onkoste van hul deelname verantwoordelik’

Spesialiste en voormalige kampioene help met die afrigting. ’n Paar Vrystaatse karateka het reeds nasionaal uitgeblink.

“Ons sal ook nasionale oefenkampe bywoon waar die spanne deur die beste afrigters van die land afgerig sal word,” voeg Kritzinger by.

Spanlede is self vir die onkoste van hul deelname verantwoordelik. Daarom sal moontlik net 22 van die 31 karateka wat gekies is, dit kan bekostig om Japan toe te gaan.

Spanlede is self vir die onkoste van hul deelname verantwoordelik. Foto verskaf

“Ons het ’n paar idees om geld in te samel, maar dit sal waarskynlik nie die volle bedrag van ongeveer R62 000 per persoon dek nie. Tog help elke bietjie meer as wat iemand sou besef, en dit word opreg waardeer.”

Van die Vrystaatse deelnemers aan die wêreldkampioenskap is Ansuri Nel, Armand Meyer, Christelle Opperman, Divan Venter, Dyllan de Witt, Elvin Pienaar, Gertie Nel, Herman Veitch, Izay Kritzinger, Jacques Venter, Jeandrè Nel, Jordan de Witt, Joseph Mokhoro, Kananelo Mokoboka, Leah Nel, Lian Kritzinger, Mariana Smith, Mohau Setloboko, Noël Van der Merwe, SJ Ferreira, SP Foord en Wilan Grobler.

Besoek die Vrystaatse Gojukai-karatespan se Facebook-blad vir inligting oor hul geldinsameling om dit vir soveel moontlik lede moontlik te maak om dié geleentheid aan te gryp.

 OFM Nuus/Heidrè Malgas mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.