Offbeat
Weird Wide Web – Duurste hond ooit?─── 15:23 Tue, 25 Mar 2025

’n Indiese hondeteler het onlangs 500 miljoen roepees (meer as R100 miljoen) betaal vir ’n unieke kruising tussen ’n regte wolf en ’n Kaukasiese herdershond (of Suid-Russiese owcharka), wat dit die duurste hond ter wêreld maak.
Die hond, met die naam Cadabomb Okami, is glo in die VSA geteel en deur S. Satish, ’n honde-entoesias van Bengaluru en president van die Indiese Hondetelersvereniging, gekoop.
Hy is bekend vir sy versameling van meer as 150 honderasse, insluitend van die skaarsste honde ter wêreld.
Satish het aan Indiese joernaliste gesê hy voel die prys van 500 miljoen roepees is die moeite werd, want Cadabomb Okami is werklik uniek. Boonop is hy ’n indrukwekkende dier – hy is slegs agt maande oud en weeg reeds 75 kg.
“Hy is ’n uiters seldsame honderas en lyk presies soos ’n wolf. Hierdie ras is nog nooit voorheen verkoop nie,” het S. Satish gesê. “Ek bestee geld op hierdie honde omdat hulle skaars is.
“Boonop verdien ek genoeg, want mense is altyd nuuskierig om hulle te sien. Hulle neem selfies en foto’s. My hond en ek kry meer aandag as ’n akteur by ’n fliekvertoning!”
Satish hou sy meer as 150 honde op sy landgoed van sewe hektaar en vertoon die skaarsste van hulle by geleenthede regoor Indië, waarvoor hy tussen $3 000 en $12 000 per optrede betaal word. Hy het reeds begin om sy belegging terug te verdien deur Cadabomb Okami by verskeie hoëprofielgeleenthede ten toon te stel.
Hy beweer mense stroom na hierdie geleenthede om die wêreld se duurste hond te sien.
OFM Nuus mvh