Offbeat
‘K’ is toe regtig vir die kobra agter die deur tydens kompetisie─── 08:30 Fri, 05 Apr 2024

Sewe uit tien met ’n slang agter die deur. Dis hoe goed Ruby Kriel van Griekwastad met die OFM Joyride se Time Trap kon vaar Donderdag (4/4).
Kriel het ingeskryf vir die kategoriekompetisie waar luisteraars binne 30 sekondes minstens tien items (diere, dorpe, ens.) wat met ’n gekose letter van die alfabet begin, moet opnoem om R1 000 kontant te wen. Min het sy geweet sy sou speel met ’n sissende besoeker aan haar sy.
Soos gebruiklik met die kompetisie, kies die rekenaar ’n letter, in hierdie geval ’n ‘k’. En, net voor die stophorlosie die sekondes begin aftik, laat weet ’n effens benoude Kriel vir omroeper Nico van der Westhuizen dat daar ’n slang by haar in die kamer op die plaas ingeseil het.
Dit het haar egter nie gestuit om deel te neem nie en sy’t die dier agter die deur gelei en vertel sy sal “hom dophou” terwyl sy aan die kompetisie deelneem.
Kriel het redelik goed gevaar en sou waarskynlik tien items kon opnoem as deel van haar fokus nie op die slang was nie. Sy kon sewe items noem wat met ‘k’ begin en het ook nog tyd gekry om ’n verjaarsdag- en beterskapswens, asook groete aan al haar vriendinne in te werk voordat sy weer aan die slang aandag kon gee.
Haar man David is toe ontbied om te kom help om die slang te verwyder, wat toe al ’n bietjie aggressief was.
“Vir my het dit gelyk of hy tien meter lank is,” vertel Kriel ná die petalje met die slang, wat toe blyk ’n Kaapse Kobra te wees.
Die span het steeds vir Kriel met die R1 000 beloon omdat sy verseker tot dusver die braafste Time Trap-deelnemer was en omdat sy as ’n amptelike OFM-luisteraar geregistreer is met die Groot Radio Registrasie-veldtog, wat bykomende voordele en pryse vir deelnemers kan ontsluit.