Offbeat
Weird Wide Web – Hawaii se water is pienk!─── 15:11 Tue, 14 Nov 2023
'n Dam in Hawaii is deesdae Barbie-pienk en lok baie toeriste.
Huffpost.com berig wetenskaplikes sê die droogte kan die skuld kry vir die vreemde kleur en mense moenie in die water gaan of dit drink nie. Personeel by die Kealia Pond National Wildlife Refuge op die Maui-eiland monitor sedert 30 Oktober die pienk water.
"Ek het ’n verslag gekry van iemand wat op die strand geloop en gesê het hier is iets vreemd aan die gang,” sê Bret Wolfe, ’n bestuurder op die eiland. Hy was aanvanklik bekommerd dat die helder pienk water deur giftige alge veroorsaak is maar laboratoriumtoetse het bevind bakterieë is moontlik die oorsaak.
Halobakterieë is eensellige organismes wat floreer in water met hoë soutvlakke. Die soutgehalte op die oomblik binne die Kealia-dam se uitlaatgebied is twee keer hoër as seewater. Wolfe sê die laboratorium sal 'n DNS-ontleding moet doen om die organisme positief te kan identifiseer.
Die droogte in Maui dra waarskynlik by tot die situasie. Normaalweg vloei die Waikapu-stroom in die Kealia-dam en verhoog die watervlakke maar dit het lanklaas gebeur. Wanneer dit reën sal die stroom in Kealia se hoofdam vloei en dan in die uitlaatgebied wat nou pienk is. Dit sal die soutgehalte verminder en moontlik die water se kleur verander.
In 70 jaar het niemand wat hier bly die kleur van die water gesien nie, sê hy. Toeriste stroom na die gebied nadat foto’s van die pienk water op sosiale media geplaas is.
Lees ook: Kersfees kom vroeg met André Schwartz en Coenie de Villiers
Wolfe sê hy het begrip dat die water almal bekoor en gelukkig lyk dit nie of dit die voëlspesies benadeel nie. Amptenare waarsku mense egter om nie in die water te gaan of enige vis te eet wat daar gevang is nie.
Lees meer