Offbeat
Weird Wide Web: Geheimsinnige skip onder puin van Twin Towers─── 15:09 Thu, 23 Mar 2023
![Weird Wide Web: Geheimsinnige skip onder puin van Twin Towers Weird Wide Web: Geheimsinnige skip onder puin van Twin Towers | News Article](https://oscar.ofm.co.za/img/5df35f2d-d2b3-4293-b807-d194ddad58db.jpg?crop=0,33,630,387)
Die verwoestende 9/11-aanvalle op die World Trade Centre in New York het die wêreld in 'n feitlik ontroosbare toestand van skok gelaat.
Mense het vir jare gerou terwyl politici en veiligheidspesialiste op terrorisme gefokus het, met die uitermatige militêre aksies wat daarop gevolg het.
Dit is waarskynlik hoekom die skeepswrak onder die puin van die World Trade Centre eers jare later ontdek is.
In 2010, toe konstruksiewerkers besig was om die terrein te herbou, het hulle op die oorblyfsels van 'n ou houtskip afgekom.
Die ooglopende vraag was, hoe op aarde het 'n eeu-oue skip amper sewe meter onder die Twin Towers beland?
Argeoloë het dadelik ondersoek ingestel
Ná vier jaar van grawe en ontledings is vasgestel dat die skip in die 1770's gebou is - ongeveer dieselfde tyd as die Onafhanklikheidsverklaring. Daar is ook vasgestel dat die eikehout wat gebruik is om die skip te bou, van Philadelphia sou kom.
Die ringe op die houtromp het selfs ooreengestem met ander monsters van houtringe wat gebruik is om Independence Hall te bou, waar beide die Onafhanklikheidsverklaring en die Amerikaanse Grondwet onderteken is.
LEES OOK: Weird Wide Web – Van tierkoning tot tronkvoël tot president
Die geheimsinnige skip is later as 'n Hudsonrivier-sloep geïdentifiseer, wat destyds deur die Nederlanders ontwerp is om vrag en passasiers oor die Hudsonrivier te vervoer.
So, hoe op aarde het dit daar beland?
Wel, daar word geglo dat, na 20 tot 30 jaar van diens, die skip na die laer Manhattan-gebied gevaar is waar dit gesink het.
Geskiedkundiges is steeds nie seker of die skip per ongeluk gesink het, of doelbewus gesink is nie.
In die dekades daarna is die skeepswrak met rommel, puin, klippe en grond bedek om die gebied van Manhattan uit te brei.
Die argeoloog Molly McDonald wat een van die eerstes was om die skip na te vors, het in 2014 dit as ‘n “wonderlike jukstaposisie” beskryf. "Verbeel jou, in die middel van hierdie stedelike, moderne, emosioneel gelaaide ligging is hierdie vonds op die rivierbodem, met mossels en visse, en die reuk van laagwater."
Die skeepswrak word deesdae in Albany by die New York-staatsmuseum uitgestal.
Lees meer hier: