On Now
Weekdays 22:00 - 23:59
Overnight Oscar
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Agriculture

Tawwe tienies pak nog ’n skaapskeerwêreldrekordpoging

───   08:55 Mon, 21 Apr 2025

Tawwe tienies pak nog ’n skaapskeerwêreldrekordpoging  | News Article
Aidan Copp en Tienie du Plessis in Februarie by Gariepdam waar die vorige rekordpoging plaasgevind het. Foto: OFM

Vir die eerste keer in 19 jaar word ’n spesifieke skaapskeerwêreldrekordpoging op Suid-Afrikaanse bodem aangepak.

Shearing Sports New Zealand berig  Aidan Copp (39), oorspronklik van Christchurch en tans woonagtig in Nieu-Suid-Wallis, Australië, en Tienie du Plessis (38) van Steynsburg in die Oos-Kaap, hoop om ’n nuwe wêreldrekord op te stel vir die meeste Merinolammers geskeer deur twee skeerders in nege uur. 

Die poging vind Dinsdag (22/4) plaas by Teebus Waters.

LEES OOK: Wol waai en rekord spat

Hoewel daar tans geen bestaande rekord in hierdie kategorie is nie, stel dié poging ’n nuwe standaard en sal dit onder die wakende oog van beoordelaars van die Wêreld Skaapskeer Rekordvereniging plaasvind. 

Die laaste rekordpoging in Suid-Afrika dateer terug na 2006, toe Samuel Juba en Bangali Joel Merino-lammers in Victoria-Wes geskeer het in die lem-kategorie.

Copp, wat reeds op 16 begin skeer het en sedertdien dwarsoor die wêreld gewerk het – selfs in die Himalajas skeeropleiding gegee het – hou tans verskeie internasionale rekords, insluitend 605 kruisraslammers in agt uur. Hy het in 2023 vir die eerste keer Suid-Afrika besoek om Du Plessis en sy skeermaat Marius Klopper te ondersteun, en beplan reeds ’n solorekordpoging vir Merino-ooie volgende maand, ook in Suid-Afrika.


Du Plessis is tans die mede-houer van die Suid-Afrikaanse rekord vir ’n twee-man agt-uur skeersessie met 1 011 Merino-lammers. In Februarie vanjaar het hy ook 1 031 Merino’s in 24 uur geskeer as deel van die “Shear Madness”-fondsinsameling.

Copp en Du Plessis se poging is deel van ’n groter poging om skaapskeerders in Suid-Afrika te bemagtig en plaasprodusente in te lig oor die waarde van doeltreffende skeertoestande. 

In plaaslike praktyke moet skeerders dikwels self skape in groot krale vang en meer as 10 meter sleep tot by die skeerbank – iets wat produktiwiteit ernstig kniehalter.

OFM Agri mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.