Agriculture
Mieliediefstal neem toe in die Vrystaat─── 05:00 Mon, 31 Mar 2025

Vrystaat Landbou doen ’n beroep op alle belanghebbendes om saam te werk om mieliediefstal te bekamp.
Die organisaise het reeds vroeg in Februarie inligting ontvang oor mieliediefstal wat in verskeie boerderygemeenskappe in die provinsie plaasvind. Hierdie misdaad, wat tradisioneel as ’n seisoenale probleem beskou word, blyk jaar na jaar vroeër te begin en het nou reeds ’n ernstige bedreiging vir boere geword.
Volgens dr. Jane Buys, veiligheidsrisiko-analis van Vrystaat Landbou, word verskeie gebiede, insluitend die Allanridge- en Odendaalsrus-omgewings, geteiken. Die probleem is egter nie tot hierdie areas beperk nie, aangesien mieliediefstal regoor die Vrystaat aangemeld word. Sekuriteitswagte wat aangestel is om die landerye te beskerm, is reeds beroof van selfone en flitse, wat die risiko vir boere en hul werkers verhoog.
’n Vergadering is versoek tussen die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), boerderygemeenskappe en die polisie om oplossings vir die probleem te bespreek. Volgens data wat Vrystaat Landbou in 2020 versamel het, word jaarliks ongeveer R240 miljoen se verliese gely as gevolg van mieliediefstal in die provinsie.
Werkswyse van diewe
Diegene wat by die diefstalle betrokke is, verskyn dikwels snags op die landerye, of word deur voertuie afgelaai. Hulle oes die mielies met die hand, stapel dit in hopies, en laai dit later in sakke om met bakkies, taxi’s of vragmotors te vervoer. Daar is bewyse dat gesteelde mielies dikwels in dorpe en langs openbare paaie verkoop word. Munisipaliteite is veronderstel om lisensies aan straatverkopers uit te reik, maar in baie gevalle word mielies sonder die nodige permitte verkoop.
Uitdagings in wetstoepassing
Een van die grootste probleme is die suksesvolle vervolging van verdagtes. Omdat mieliediefstal ’n seisoenale probleem is, word sekuriteitswagte dikwels slegs vir beperkte periodes in diens geneem. Dit veroorsaak dat baie sake in die hof teruggetrek word, aangesien sleutelgetuies nie meer beskikbaar is om te getuig nie. Daar is ook kritiek dat nie genoeg sake tot op die hofrol deurgevoer word nie, wat daartoe lei dat diewe dikwels ongestraf bly.
Dr. Buys beklemtoon boere moet self ’n groter rol speel deur misdaad aan te meld en impakverklarings af te lê. Dit is belangrik dat boere nie net diefstal rapporteer nie, maar ook die finansiële verliese en sekuriteitskostes aan die owerhede deurgee sodat die omvang van die probleem behoorlik vasgestel kan word.
Voorgestelde oplossings
Vrystaat Landbou stel voor ’n permitstelsel moet ingestel word vir die wettige verskaffing van mielies, soortgelyk aan die bestaande veeverwyderingspermitstelsel. Dit sal help om die wettige handel in mielies van die onwettige mark te onderskei. Daar is egter wetlike uitdagings, aangesien so ’n permitstelsel op nasionale vlak deur die polisieminister geproklameer moet word voordat dit in werking kan tree.
Polisiesamewerking is noodsaaklik, en plaaslike stasies word versoek om die probleem te prioritiseer. ’n Meer gestruktureerde en doeltreffende toepassing van bestaande wette, insluitend die Nasionale Padverkeerswet, moet ook toegepas word om die verkoop van onwettig verkryde mielies te beperk.
Georganiseerde misdaad, nie net oorlewing nie
Daar is ’n verkeerde persepsie dat mieliediefstal hoofsaaklik deur individue gepleeg word wat voedselonsekerheid ervaar. Volgens Dr. Buys is dit egter duidelik dat hierdie misdaad goed georganiseer is en deur netwerke en sindikate bedryf word. Die grootskaalse diefstal van sakke vol mielies dui daarop dat daar 'n georganiseerde afsetgebied vir die gesteelde produkte is.
Die boerderygemeenskap versoek dat die polisie en die strafregstelsel die probleem as georganiseerde misdaad hanteer en dit doeltreffend aanpak. Sonder sterk vervolging en strawwe vonnisse sal die probleem voortduur en moontlik selfs vererger.