On Now
Weekends 22:00 - 23:59
Overnight Oscar
NEXT: 00:00 - 05:00 Early Mornings with Oscar
Listen Live Streams

Agriculture

AgriSA se vooruitskouing vir 2025: ‘Krag van sektor lê in verhoudings’

───   ELZETTE BOUCHER 05:00 Mon, 06 Jan 2025

AgriSA se vooruitskouing vir 2025: ‘Krag van sektor lê in verhoudings’ | News Article
Foto: Getty Images

Ten spyte van uitdagings, heers daar optimisme oor groeigeleenthede en strategiese planne om kernprobleme in die landboubedryf aan te spreek.

Jolanda Andrag, die hoofbedryfsbeampte van AgriSA, deel haar insigte en verwagtinge vir 2025.

Voedselsekerheid en groei

“As AgriSA is ons positief. In die breë is daar ook ’n positiewe gesindheid in die landbousektor. Die kritiese ding is egter om ’n balans te vind tussen groei in die bedryf terwyl ons die uitdagings in die sake-omgewing moet aanpak,” vertel Andrag.

Sy wys daarop dat swak dienslewering, gebrekkige infrastruktuur, armoede, werkloosheid en misdaad groot struikelblokke is wat koste verhoog en produktiwiteit belemmer.

Ondanks hierdie uitdagings verwag die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFab) dat die sektor in 2025 met 3,5% sal groei. Hierdie optimistiese voorspelling word versterk deur verwagte verbeterings in klimaattoestande en moontlike gunstige pryse vir graanprodukte.

Die afgelope vier jaar het die landbouhandelsbalans in dollarwaarde verdubbel, hoofsaaklik te danke aan groei in die vrugtebedryf. “Ons sien uit na verdere marktoegang onder die regering van nasionale eenheid se leiding om internasionale markte te ontsluit,” noem Andrag. Sy beklemtoon ook die belang van volgehoue samewerking met internasionale handelsvennote om groei in die sektor te fasiliteer.

LEES OOK: Landbou in 2024: ’n Jaar van Uitdagings en Hoop

Andrag beklemtoon dat voedselsekerheid nie net afhang van wat op plaasvlak gebeur nie. Dit vereis samewerking met rolspelers in die hele waardeketting, insluitend kleinhandelaars en voedselverwerkers. “Ons wil seker maak dat elke deel van die ketting effektief funksioneer om Suid-Afrika en die groter Afrika voedselveilig te hou.”

Dieregesondheid en beleidstellings

Dieregesondheid bly ook ’n kritieke fokusarea vir AgriSA. Siektes soos bek-en-klouseer en Afrika-varkpes het ’n groot invloed op internasionale marktoegang. “Ons is opgewonde oor die samewerking tussen die rooivleisbedryf en die departement van landbou se direktoraat vir dieregesondheid.” Hierdie samewerking kan die sleutel wees tot beter protokolle en bestuur van siektes wat markvertroue sal verbeter.

AgriSA sal voortgaan om beleidsaangeleenthede soos water, grond, arbeid en handel te prioritiseer. Andrag beklemtoon dat daar ook ’n groeiende behoefte is om meer uitkomsgerigte aksies te onderneem. Plaaslike gemeenskappe en verskeie sake-sektore werk toenemend saam om uitdagings aan te spreek, soos plaasveiligheid en die bestuur van dieregesondheid.

“Ons sien ons rol as ’n fasiliteerder wat die kompleksiteit van die sake-omgewing bestuur. Ons wil sterk vennootskappe bou, beide op nasionale en plaaslike vlak.” AgriSA werk ook aan ’n voedselsekerheidsindeks wat ekonomiese beginsels gebruik om die toestand van die voedselwaardeketting te meet en beter besluite te neem.


Boodskap aan landbouers

AgriSA se boodskap aan landbouers vir 2025 plaas klem op die waarde van verhoudings: “Besef julle krag lê in die gesondheid van jul verhoudings in die gemeenskappe rondom julle. Ons sien verskeie uitdagings op ’n globale vlak en soveel dinge verander, maar ons vermoë om dit werklik te bestuur lê in die krag van ons verhoudings met die mense om ons.”

Andrag moedig boere aan om deel te word van georganiseerde landboustrukture om sodoende ’n bydrae te lewer tot volhoubaarheid en voedselsekerheid in Suid-Afrika en Afrika.

OFM Agri cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.