On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret, John and Nadine
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Agriculture

COP29: Suid-Afrikaanse boere reeds op regte pad

───   08:07 Tue, 03 Dec 2024

COP29: Suid-Afrikaanse boere reeds op regte pad | News Article

Jolanda Andrag, AgriSA bedryfshoof, was onlangs deel van die Suid-Afrikaanse afvaardiging wat georganiseerder landbou by COP29, die VN se konferensie oor klimaatsverandering in Baku, Azerbaijan, verteenwoordig het.

Sy vertel die reuse kongres, waar 32 000 mense teenwoordig was, gaan oor meer as net multilaterale gesprekke oor die finansiering van klimaatsverandering en die impak daarvan.

“Daar is parallelle sessies waar die besigheidsektor en burgerregte-organisasies innovasies en oplossings aanbied. Dit is inspirerend om te sien hoe verskeie lande streef na koolstofneutraliteit teen 2050.”

Van besondere belang was die gesprekke oor landbou, waar boere van regoor die wêreld hul ervarings en strategieë gedeel het. “Dit was duidelik dat Suid-Afrikaanse boere reeds op die regte pad is. Ons gebruik praktyke wat koolstofemissies bestuur en kan voortbou op bestaande tegnieke.”

Sy verwys ook na navorsing deur die Universiteit van Kansas, wat beklemtoon het dat plaasvlakpraktyke die sleutel is. “Ons moet ons bestaande strategieë beter toepas en die impak daarvan meet. Datastelsels wat reeds geïmplementeer word deur bedryfsorganisasies, speel ’n belangrike rol om te verseker dat ons fokus op die werklike faktore, eerder as om net ‘boksies af te tick’.’”

’n Groot tema by COP29 was volhoubare finansiering. Internasionale handelsvennote werk tans aan waardekettings wat innovasie, versekering, en groen finansiering bevorder. Volgens Andrag is hierdie finansiële stelsels noodsaaklik om boere te beloon vir hul bydraes tot klimaatsverandering en om verdere effektiwiteit te ontsluit.


“Suid-Afrika beweeg reeds in hierdie rigting. Ons sien dat versekeraars en finansierders volhoubaarheidspraktyke begin meet in hul interaksies met boere. Dit is nie iets om te vrees nie – ons is gereed daarvoor.”

Andrag sluit af met die belangrikheid van voedselsekerheid in Suid-Afrika en die groter Afrika-konteks. “Boere moet aanpas by veranderende klimaattoestande, maar steeds verseker dat bekostigbare voedsel beskikbaar bly. Ons sosiale kapitaal en geslagte lange kennis oor plaaslike weerpatrone is ’n waardevolle hulpmiddel.”

OFM Agri cg


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.