On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico
Listen Live Streams

Agriculture

Ficksburg: Die kersie op Oos-Vrystaat se koek

───   ROBYN SCHUTTE 05:00 Thu, 14 Nov 2024

Ficksburg: Die kersie op Oos-Vrystaat se koek | News Article
Geleenthede soos die jaarlikse Kersiefees bied n geweldige hupstoot vir die plaaslike ekonomiee. Foto verskaf

Die kersie-oes in die Oos-Vrystaat is vanjaar ietwat later, maar dit dra steeds grootliks by tot die plaaslike ekonomie.

Kersietyd is een van die hoogtepunte van die jaar vir die Oos-Vrystaat, en met die begin van die seisoen bring die kersiebedryf nie net vars vrugte nie, maar ook ’n waardevolle ekonomiese inspuiting vir die hele streek.

Frieda Kruger van Bloukruin Boerdery, wat kersies in die Ficksburg-distrik verbou, verduidelik dat vanjaar se kersie-oes ongeveer tien dae later as gewoonlik begin het weens laat blomtyd wat veroorsaak is deur die streek se streng wintertoestande. Die kersiebome in die Oos-Vrystaat het ’n hoë kouebehoefte, wat die bome help om behoorlik te ontwikkel, maar ook sensitief maak vir swart ryp, ’n gereelde uitdaging tydens die blomfase in hierdie streek.

Die mark vir kersies in Suid-Afrika toon steeds groei, hoewel kersies duurder is as ander vrugte weens die intensiewe arbeid en sorg wat dit verg. “Ons sien ’n vraag na plaaslike kersies, maar dit bly ’n luukse item op winkelrakke,” sê Kruger. Bloukruin se kersies word nie uitgevoer nie en word eerder plaaslik verkoop, waar laer gehalte vrugte ook in produkte soos konfyte, kersielikeur, en blatjangs verwerk word – ’n proses wat lei tot ’n wye reeks produkte wat in die plaas se padstal beskikbaar is.


Die Oos-Vrystaatse kersiebedryf, wat ook die jaarlikse Kersiefees in Ficksburg en omliggende dorpe soos Clarens en Fouriesburg insluit, speel ’n belangrike rol in die streek se ekonomie. Dié fees lok nie net plaaslike besoekers nie, maar ook toeriste van verder af wat die unieke landelike atmosfeer en die kersieseisoen wil beleef. Volgens Kruger gee die Kersiefees elke jaar ’n ekonomiese inspuiting aan die streek, veral in Novembermaand, en bevorder dit die gebied as ’n gewilde toerismebestemming.

Op die internasionale front kyk die Suid-Afrikaanse kersiebedryf na moontlike uitvoermarkte soos China. Terwyl Bloukruin nie self uitvoer nie, kan die potensiaal om Suid-Afrikaanse kersies aan die Chinese mark beskikbaar te stel, die landbousektor oor die algemeen versterk en geleenthede vir plaaslike produsente uitbrei.

Ten spyte van vanjaar se kersie-oes wat ongeveer tien dae later as gewoonlik begin het, is produsente tevrede met die hoe kwaliteit van die vrug. Foto verskaf

Landbou.com berig dat volgens Jacques du Preez van Hortgro, word daar tans onderhandel om steenvrugte na China uit te voer, met kersies wat in die volgende paar jaar moontlik by die lys kan aansluit indien marktoegang verkry word. Hierdie ontwikkeling kan die Oos-Vrystaat en ander streke se kersieprodusente ’n voet in die deur gee om later aan die wêreld se grootste kersie-invoerders, soos China, te begin lewer.

Die Oos-Vrystaat se kersiebedryf het dus nie net plaaslike ekonomiese waarde nie, maar hou moontlik internasionale geleenthede in, wat nuwe markte en groei vir die bedryf kan beteken.  

OFM Agriculture/Robyn Schutte cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.