On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Oscar
Listen Live Streams

Agriculture

Ekonomiese druk: ‘Verbruiker bly alfa en omega’

───   ROBYN SCHUTTE 07:41 Sun, 17 Nov 2024

Ekonomiese druk: ‘Verbruiker bly alfa en omega’ | News Article
Foto: Getty Images

Suid-Afrika se landboubedryf is in die knyp weens swak ekonomiese toestande en beperkte verbruikersbesteding.

Roelie van Reenen, verskaffingsskettingbestuurder by die Beefmaster-groep, verduidelik die land se ekonomiese klimaat beperk die vraag na primêre landbouprodukte en plaas gevolglik druk op produsente se winsgewendheid.

“Die verbruiker is die alfa en omega van ons bedryf. Hulle bepaal die prys en vraag na ons produkte, maar met die ekonomie wat nie groei nie en te min werkgeleenthede, bly bestedingsvermoë laag. Dit dwing produsente om maniere te vind om goedkoper te produseer.”

Marktoegang as sleutel tot volhoubaarheid

Toegang tot binnelandse en buitelandse markte is belangrik. Hy waarsku dat swak biosekuriteit, soos gesien tydens die bek-en-klouseer-uitbreking, toegang tot waardevolle uitvoermarkte kan beperk. “Sonder toegang tot hierdie markte kan produsente nie volhoubaar bly nie.”

Hy sê die invoer van lewende diere is minder van ’n probleem as die invoer van verwerkte vleis.“Wanneer vleis direk na Suid-Afrikaanse winkels ingevoer word, verloor ons beheer oor die waardeketting. Dit het ’n baie groter negatiewe effek op plaaslike pryse.”

Kritieke rol van slagpale

Slagpale bly ’n integrale deel van die verskaffingsketting, maar die volhoubaarheid daarvan word bedreig as getalle van plaasdiere nie voldoende is nie. “As ’n produsent nie ’n slagplek het waarnatoe hy sy lammers kan neem nie, is sy onderneming in gevaar,” verduidelik Van Reenen.

Oplossings vir beter pryse

Volgens hom sal ekonomiese groei en die skep van werkgeleenthede help om verbruikers se bestedingsvermoë te verhoog wat tot beter pryse vir produsente kan lei. Hy moedig produsente aan om aanpassings te maak en koste-effektiewe produksiemetodes te ontwikkel.

“Laastens moet boere hulself voorberei op die huidige uitdagings deur finansieel gedissiplineerd te wees en planne te maak vir toekomstige groei. Die mark is dalk onder druk, maar slim aanpassings kan help om die impak te verminder.”  

OFM Agri/Robyn Schutte dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.