On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Anny
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Gerben
Listen Live Streams

Agriculture

Portefeuljekomitee besoek OBP en LNR

───   07:50 Tue, 08 Oct 2024

Portefeuljekomitee besoek OBP en LNR | News Article
Dina Pule, die voorsitter van die portefeuljekomitee oor landbou.

“Die twee entiteite speel ’n kritieke rol in veeproduksie, dieregesondheid en siektebestuur.”

Die Parlementêre Portefeuljekomitee vir Landbou is vandeesweek (8 – 10/10) op ’n oorsigbesoek aan die Gauteng-gebaseerde entiteite van die Departement van Landbou: Onderstepoort Biologiese Produkte en die Landbounavorsingsraad in Tshwane. 

Die doel van die besoek is om onder meer vordering in die modernisering van ’n entstofvervaardigingsaanleg te evalueer, asook vordering met die bou van ’n bek-en-klouseerfasiliteit. Die twee entiteite speel ’n kritieke rol in veeproduksie, dieregesondheid en siektebestuur.

‘OBP-produkte dra by tot voorkoming van dieresiektes’

“Met inagneming van die voortgesette bek-en-klouseer-uitbrake, poog die komitee verder om ’n insig te kry in die twee entiteite se bedryfsomgewings, insluitend komplimentêre areas in diere-entstofnavorsing en –ontwikkeling,” sê Malentsoe Magwagwa, skakelbeampte van die komitee, in ’n verklaring.

Die OBP vervaardig verskeie tipes entstofdosisse vir gebruik in plaaslike en internasionale markte. Sy produkte dra by tot die voorkoming van dieresiektes soos miltsiekte, botulisme, enterotoksemie, slenkdalkoors, brusellose, rooiwater, knopvelsiekte en driedaagse stywe siekte.

Die LNR is ’n vooraanstaande wetenskaplike instelling wat navorsing met vennote doen, mensekapitaal ontwikkel en innovasie bevorder om die landbousektor te ondersteun en te ontwikkel.

‘Landbou het ’n groot uitwerking op die res van die land se ekonomie’

Dina Pule, die voorsitter van die portefeuljekomitee, het vroeër tydens die State of the Beer Economy-geleentheid, in Caledon, Wes-Kaap, die belangrike rol beklemtoon wat landbou in die Suid-Afrikaanse ekonomie speel. “Dit is ten spyte daarvan dat die landbou slegs ’n relatief klein deel van 2,8% tot die land se totale bruto binnelandse produk bygedra het.”

Pule het gesê hoewel landbou se bydrae as relatief klein beskou kan word in vergelyking met die bydrae van ander sektore, maak dit dit nie minder belangrik nie. “Die sektor het ’n relatief groot uitwerking op die res van die land se ekonomie. As die hele landbouwaardeketting in ag geneem word, sal die sektor na raming tot 12% tot die nasionale BBP bydra.”

OFM Agri cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.