On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Anny
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Gerben
Listen Live Streams

Agriculture

Vervalde wapenlisensies: Wat jy moet weet

───   19:09 Mon, 07 Oct 2024

Vervalde wapenlisensies: Wat jy moet weet | News Article
Vuurwapeneienaars moet ook seker maak dat hul bevoegdheid nie verval het nie.

“Dit is egter uiters belangrik dat die wapen nie gebruik mag word terwyl die aansoek verwerk word nie.”

Wapeneienaars word gemaan om waaksaam te wees rakende die wettigheid van vuurwapens waarvan die lisensies verval het. Dit volg ná berigte dat landbouers in hegtenis geneem is omdat hulle in besit was van gewere met vervalde lisensies.

Zane Koeberg, ’n bekende wapenkenner en lisensieopleidingsinstrukteur van Bloemfontein, verduidelik die situasie en beklemtoon die belangrikheid daarvan om vervalde lisensies betyds te hernu. Hy sê: “In my ondervinding met wapenaansoeke, en veral vervalde lisensies, is dit ’n vreemde verskynsel van die SAPD om tot sulke drastiese optredes oor te gaan.”

Koeberg het verder benadruk dat die Grondwethof reeds in 2022 beslis het dat ’n vuurwapen steeds die eiendom van die eienaar bly, selfs al het die lisensie verval. Hy voeg by: “Die uitspraak het bepaal dat ’n wapen waarvan die lisensie verval het, steeds die eiendom van die persoon bly, en dat hy of sy mag aansoek doen vir ’n lisensie daarvoor.” 

Dit is dus moontlik om ’n nuwe lisensie aan te vra sonder om die wapen by die polisie in te handig.

Die aansoekproses is eenvoudig, verduidelik hy: “Jy voltooi ’n volledige aansoek vir ’n nuwe lisensie vir die vuurwapen ter sprake en heg al die rugsteunende dokumentasie aan.” Hierdie aansoek moet by die plaaslike polisiestasie ingedien word. “Maak seker dat jy wel ’n kwitansie kry nadat jy betaal het.”

Dit is egter uiters belangrik dat die wapen nie gebruik mag word terwyl die aansoek verwerk word nie: “Tydens hierdie periode mag hierdie wapen onder geen omstandighede gebruik word nie. Dit moet in sy kluis toegesluit bly totdat die nuwe lisensie goedgekeur is.”

Verder het Koeberg daarop gewys dat vuurwapeneienaars nie net op lisensies moet fokus nie, maar ook seker moet maak dat hul bevoegdheid nie verval het nie. “Gewoonlik wanneer ons ’n navraag kry vir ’n lisensie wat verval het, is die eerste plek waar ons kyk of die bevoegdheid nog in plek is.” As die bevoegdheid verval het, moet dit eers hernu word voordat ’n nuwe lisensie vir die wapen aangevra kan word.

Eienaars word ook aangeraai om professionele hulp in te win indien hulle onseker is oor die prosedures, veral in gevalle waar vuurwapens deel van ’n boedel is. Boere en vuurwapeneienaars word aangemoedig om hul lisensies betyds te hernu om probleme met die wet te vermy en om seker te maak dat hul bevoegdhede op datum is.

OFM Agri c

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.