On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Gerben
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

Verwagte weer vir plantseisoen: ’n Uitdagende begin

───   ROBYN SCHUTTE 12:08 Mon, 07 Oct 2024

Verwagte weer vir plantseisoen: ’n Uitdagende begin | News Article
Van der Berg waarsku teen die impak van hoë temperature wat vanaf 9 Oktober verwag word, met temperature wat bo 35 grade Celsius kan styg. Foto: iStock

“Produsente in Sentraal-Suid-Afrika moet hulself staal vir beproewende weersomstandighede gedurende die komende plantseisoen.”

Hoewel sekere gebiede in September van reën voorsien is, is die vooruitsigte vir Oktober minder belowend met verwagte uiterste hitte en beperkte plantreën.

Volgens onafhanklike weerkundige, Johan van der Berg, was die reënval in September, hoewel welkom, nie tipies vir dié tyd van die jaar nie. 

Streke soos die Suid-Vrystaat, byvoorbeeld Zastron, het tot 120 millimeter reën gekry – veel meer as wat gewoonlik verwag word. Hy het egter beklemtoon dat hierdie reënval uitsonderlik was en dat boere nie op soortgelyke toestande kan staatmaak vir die res van die seisoen nie.


Vertraagde reën en uitdagende toestande

Die verwagting vir plantreën in Oktober is skraal, en daar word na uiterste warm toestande gekyk wat kan bydra tot verdere uitdroging van die bogrond. Boere het gewoonlik minstens 30 tot 50 millimeter reën nodig om te begin plant, maar die kans dat hierdie reënval in Oktober sal voorkom, is volgens Van der Berg klein. 

Die stadige ontwikkeling van die El Niño-verskynsel dra verder by tot die vertraagde reën. Van der Berg voorspel dat goeie reën eers in die tweede helfte van November verwag kan word, met beter vooruitsigte in Desember, Januarie, en Februarie.

‘Dit kan veroorsaak dat aanplantings nie betyds gedoen word nie’

Van der Berg het verduidelik dat boere in sentrale en westelike gebiede, soos Noordwes en Noordwes-Vrystaat, meer tyd het vir aanplantings tot einde Desember. Aan die oostelike kant, soos die Oos-Vrystaat en Mpumalanga, is daar egter ’n dringender behoefte aan reën. Hierdie streke het die vorige seisoen ondergemiddelde reënval beleef, en grondvog is tans baie beperk. Dit kan veroorsaak dat aanplantings nie betyds gedoen word nie, wat veral problematies is vir boere wat beoog om voor einde November te plant.

Hittegolwe en winderige toestande

Van der Berg waarsku ook teen die impak van hoë temperature wat vanaf 9 Oktober verwag word, met temperature wat bo 35 grade Celsius kan styg. Hierdie hittegolwe kan veral in die westelike produksiegebiede skade aanrig, waar winderige toestande vog uit die bogrond kan onttrek. Hierdie toestande kan die plantseisoen verder bemoeilik, aangesien boere in sommige gebiede nie in die landerye sal kan inkom wanneer reën uiteindelik val nie.

Langtermyn voorspellings en klimaatsverandering

Hoewel die huidige El Niño- en La Niña-toestande neutraal bly, maak dit weer voorspellings uitdagend. Van der Berg het daarop gewys dat hierdie seisoen spesifiek ’n langtermyn tendens van wisselvalligheid toon, wat voorspellings nog moeiliker maak. Hy beklemtoon egter dat, sodra die reën begin val, voorspellings meer akkuraat kan wees en dat die res van die seisoen moontlik redelik goed sal verloop.

Van der Berg het ook ’n laaste waarskuwing gerig oor die impak van klimaatsverandering, wat tans gesien word in die vorm van sterker storms en orkane wêreldwyd. Hoewel orkaan Helene, wat tans verwoesting in Amerika saai, nie ’n direkte impak op Suid-Afrika het nie, is dit ’n aanduiding van die effekte van stygende see temperature. Soortgelyke verskynsels, soos siklone in die Indiese Oseaan, kan in die toekoms meer gereeld voorkom, wat ’n impak op ons weerstelsels kan hê.

Boere in die somer-reënstreek moet dus voorbereid wees op ’n later as gewone plantseisoen, en versigtig wees met die aanplantingsbesluite wat hulle neem. Wees gereed vir wisselvallige weersomstandighede totdat die reën uiteindelik begin val, en vermy onnodige risiko’s om die seisoen so suksesvol as moontlik te maak.

OFM Agri/Robyn Schutte cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.