On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Gerben
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

Klimaatslim-ambassadeur: ‘Boer sodat die wêreld kan sien jy wil boer’

───   04:30 Tue, 08 Oct 2024

Klimaatslim-ambassadeur: ‘Boer sodat die wêreld kan sien jy wil boer’ | News Article
Charl Saunderson. Foto verskaf

“Ek wil graag vir my Hemelse Vader sê, ek probeer om ’n goeie rentmeester te wees. Want die beginsel van ‘wees getrou in die klein’ beteken vir my dat ek meer verantwoordelikhede oor tyd kan kry.”

Veeplaas se 2024 Klimaatslim-ambassadeur Charl Saunderson, ’n skaapboer van die Kenhardt-distrik in die Noord-Kaap, vertel aan PlaasTV die liefde vir sy grond en die nalatenskap wat hy geërf het, spruit uit diepe dankbaarheid teenoor sy voorouers. Vir hom is veldverbetering nie ’n 100m-resies nie, maar eerder ’n 100-jaar resies.

Op Nooitgedacht, boer Charl en sy vrou, Isabel, met Dorpers, Witdorpers en Boerbokke. Hy is passievol oor sy plig om hierdie grond, wat van geslag tot geslag oorgedra is, te verfraai en volhoubaar te bestuur. 

Saunderson vertel hoe sy oupagrootjie die grond in sy oorspronklike vorm gekoop het – sonder enige ontwikkeling soos drade of waterputte. Met verloop van tyd het sy oupa en pa begin om die plaas te ontwikkel, en hy is nou bevoorreg om voort te bou op ’n soliede basis wat deur hulle geskep is. Vir hom is dit van kardinale belang om hierdie erfenis te eer, nie net deur die grond in stand te hou nie, maar om dit aktief te verbeter.

“Ek moet vir my oupa-grootjie, my oupa en my pa op ’n manier dankie sê. En dit is nie net om hierdie bate wat hulle geskep het te bewaar nie. Ek moet dit verbeter, anders begrawe ek hierdie talent wat ek gekry het onder ’n klip.”

Saunderson verduidelik sy verantwoordelikheid om die skade wat oorbeweiding oor dekades veroorsaak het, reg te stel. Hy vertel hoe hy die ploeg haak, krale skoonmaak, skaapmis en beenmeel in die grond gooi en die land besaai om die kwaliteit van die grond te verbeter.

Vir Saunderson is boerdery nie net ’n werk nie, maar ’n vorm van "gevryery" met die grond. Hy sien sy werk as ’n poging om die land mooier en beter te maak. Hierdie liefde vir die grond is nie net ’n eerbetoon aan sy voorouers nie, maar ook ’n daad van geloof en dankbaarheid teenoor God. 

Op Nooitgedacht leer die volgende generasies reeds oor die belangrikheid van herlewingslandbou. Foto verskaf

“Ek wil graag vir my Hemelse Vader sê, ek probeer om ’n goeie rentmeester te wees. Want die beginsel van ‘wees getrou in die klein’ beteken vir my dat ek meer verantwoordelikhede oor tyd kan kry.”

Sy passie vir boerdery is aansteeklik en hy moedig ander boere aan om op dieselfde manier te werk. “Boer sodat die wêreld kan sien jy wil boer,” sê Saunderson. Hy waarsku teen die gevare van nalatigheid, soos om doringbome te laat oorneem. Hierdie gewasse, indien dit nie beheer word nie, sal uiteindelik die grond oorneem, en hy is nie bereid om sy plaas sonder vergoeding weg te gee nie – “nie eens aan ’n doringboom nie,” skerts hy.

Op 15 Oktober bied Saunderson ook ’n klimaatslim-boeredag as deel van sy prys aan om ander boere touwys te maak oor hoe om met karige hulpbronne produksie voortdurend te verbeter.

OFM Agri

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.