On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Agriculture

Dringende ramphulpbestuur nodig ná veldbrande in Oos-Vrystaat

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:20 Fri, 04 Oct 2024

Dringende ramphulpbestuur nodig ná veldbrande in Oos-Vrystaat | News Article
Ramphulp moet so gou moontlik aan boere verskaf word. Foto verskaf

“Die VF Plus vra al jare lank distriksmunisipaliteite om die gebrek aan rampbestuurtoerusting aan te spreek.”

Ramphulp vir boere in die Oos-Vrystaat is nou dringend nodig nadat onlangse veldbrande verwoestende verliese veroorsaak het.

So sê Jan van Niekerk, VF Plus, nadat nege veldbrande Donderdag (26/9) deur die streek gewaai het en duisende hektaar weiveld en landerye vernietig het.

Die brande, wat deur sterk winde versprei is, het die Memel-, Verkykerskop- en Vrede-gebiede erg geraak. Ironies genoeg het hierdie selfde streke net die vorige naweek swaar sneeuval en ysige temperature ervaar.

Verskeie huise is vernietig en honderde stuks vee en wilde diere het in die vlamme omgekom.

Honderde stuks vee en wilde diere het in die vlamme omgekom. Foto verskaf

Hoewel die presiese oorsaak van die brande en die volle omvang van die skade onduidelik bly, dui aanvanklike skattings daarop dat ongeveer 70% van Memel se grond verskroei is, het Wicus van der Merwe, sekretaris van die Memel Boerevereniging (MBV) en hoofbrandhulpkoördineerder, vroeër aan OFM Nuus gesê.

Volgens Van Niekerk vra die VF Plus al jare lank distriksmunisipaliteite om die gebrek aan rampbestuurtoerusting en omvattende planne aan te spreek. “Dit sluit die afwesigheid van brandbestrydingstoerusting in verskeie munisipaliteite in.

“Daar was talle voorvalle in die Vrystaat waar huise en plase deur brande verwoes is, en die munisipaliteite, wat verantwoordelik is vir hulpverlening, kon nie voldoende reageer nie,” sê Van Niekerk.

Behoorlike rampbestuursplanne moet geïmplementeer word. Foto verskaf

Hy het ook gesê dat samesprekings verlede week met Elzabé Rockman, die LUR vir landbou en omgewingsake, gevoer is. Daar is versoek dat ramphulp so gou moontlik aan hierdie boere verskaf word.

“Die VF Plus sal ook Saki Mokoena, die LUR van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), vra om die betrokke gebiede tot rampsones te verklaar,” het Van Niekerk bygevoeg.

Die VF Plus bly daartoe verbind om die regering aanspreeklik te hou totdat behoorlike rampbestuursplanne geïmplementeer is.


Rockman het die Oos-Vrystaat twee maande gelede besoek om die nagevolge van brande in die Golden Gate-omgewing te aanskou en direk van boere te hoor oor hul uitdagings en behoeftes.

Volgens Van Niekerk het die party ook versoek dat die Vrystaatse wetgewer se relevante portefeuljekomitee die tekortkominge in die distriksmunisipaliteite se rampbestuursplanne ondersoek.

“Dit is intussen van kritieke belang dat die provinsiale regering dringend die nodige ramphulp aan die boere verskaf,” sê Van Niekerk.

“Brandbestrydingsdienste is nie op standaard nie.” Foto verskaf

Van Niekerk sê boere in die omgewing het hul bes gedoen om die veldbrande te beheer. “Die brande het duidelik gewys dat die distriksmunisipaliteite se brandbestrydingsdienste nie op standaard is om die nodige bystand te verleen nie.”

“Die VF Plus betuig sy meegevoel met diegene wat geliefdes verloor het, beserings opgedoen het of hul huise, toerusting, vee of voer weens die brande verlore is.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.