On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Gerben
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

Agri Noordwes jaarkongres plaas klem op samewerking

───   ROBYN SCHUTTE 05:00 Thu, 03 Oct 2024

Agri Noordwes jaarkongres plaas klem op samewerking | News Article
Pienaar spreek optimisme uit oor die toekoms en sê dat Agri Noordwes bly hoop dat daar oplossings is en dat hulle as ’n span sal saamwerk om uitdagings te oorkom. Foto: iStock

“Die tema van vanjaar se kongres, ‘Praat saam, werk saam en verseker saam ’n toekoms‘ beklemtoon die belangrikheid van kollektiewe optrede in uitdagende tye.”

Agri Noordwes se jaarkongres, wat eerskomende Vrydag in Lichtenburg plaasvind, beloof om belangrike kwessies te bespreek wat landbouers in die streek ervaar.

Naudé Pienaar, adjunkhoofbestuurder, vertel aan OFM Agri wat kongresgangers kan verwag van vanjaar se kongres, sowel as die uitdagings wat die landbousektor hierdie jaar beleef het.

Pienaar sê dat die tema van vanjaar se kongres, “Praat saam, werk saam en verseker saam ’n toekoms”, die belangrikheid van kollektiewe optrede in uitdagende tye beklemtoon.

“Ons glo nie dat enige organisasie dit alleen kan doen nie, maar dat ons dit saam moet doen,” sê hy en lê klem op die noodsaaklikheid van samewerking om oplossings te vind vir die moeilike omstandighede wat die landbousektor beleef.


Die jaar 2024 was veral uitdagend vir landbouers in Noordwes weens die droogte en verwoestende veldbrande. Pienaar erken dat die gebrek aan ondersteuning van beide die nasionale en provinsiale regering dit vir landbouers baie moeilik maak.

“Munisipaliteite is besig om dramaties ineen te stort, wat groot uitdagings vir ons skep,” sê hy. Nietemin spreek Pienaar optimisme uit oor die toekoms en sê dat Agri Noordwes bly hoop dat daar oplossings is, en dat hulle as ’n span sal saamwerk om uitdagings te oorkom. 

‘Ons bly daartoe verbind om ons lede te ondersteun’

Pienaar moedig verder lede van Agri Noordwes, wat nie die kongres kan bywoon nie, aan om inligting oor die besluite en gesprekke wat by die kongres gemaak word vinnig te bekom en aktief deel te neem aan toekomstige vergaderings.

Die jaarkongres sluit verkiesings vir leierskapsposte in, asook motiverende toesprake, insluitend een deur Gavin Sharples.

“Ons sien baie uit na die samesprekings en leiding wat sal volg,” voeg Pienaar by. “Ons bly daartoe verbind om ons lede te ondersteun en te verseker dat hulle die uitdagings van die toekoms kan aanpak as ’n verenigde span.”

OFM Agri/Robyn Schutte mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.