On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Classic Sundays Christie
NEXT: 16:00 - 19:00 All Request Sunday with Nikki
Listen Live Streams

Agriculture

Vrystaat vier plaaslike uitnemendheid by Lamb Champs

───   08:16 Sun, 29 Sep 2024

Vrystaat vier plaaslike uitnemendheid by Lamb Champs | News Article
Theo de Jager - Saai direksie Voorsitter, Minki van der Westhuizen - Lamb Champs seremoniemeester, Morne Coetzer en Dallas Langman - besturende uitvoerende hoof van Pick n Pay. Foto: verskaf

“Lamb Champs werp steeds ’n lig op die toewyding en uitnemendheid van Suid-Afrika se boere.”

Altesaam 37 van die Vrystaat se beste boere het Saterdag (28/9) meegeding om die gesogte titel van beste lamsvleisprodusent in die provinsie. Die Lamb Champs-kompetisie het plaasgevind by die Bielie Mielie Feesgronde in Reitz in die Vrystaat.

Hierdie viering van lamsuitnemendheid, georganiseer deur die Suider-Afrikaanse Agri-inisiatief (Saai), het boere, gemeenskappe en besoekers van regoor die streek bymekaargebring. “Die kompetisie was straf, met boere wat hul hoogste standaarde van boerdery en vleisproduksie ten toon gestel het,” vertel Francois Rossouw, hoof-uitvoerende beampte van Saai.

Morné Coetzer, wat met Meatmaster-skape boer, is as die algehele wenner aangewys en het pryse ter waarde van R50 000 ontvang. In die tweede plek was Abé Visser en Pierre Hattingh, wat met SAVM-skape boer, en Chris Retief, wat met Dohne Merinos boer, het die derde plek behaal.

Theo de Jager, Saai-direksievoorsitter; Minki van der Westhuizen, Lamb Champs se seremoniemeester; Dallas Langman, besturende uitvoerende hoof van Pick n Pay; en Abé Visser. Foto verskaf

Benewens die hoofkompetisie, het tien boere-unies aan ’n lamspitbraaikompetisie deelgeneem. “Hier is boere beoordeel op smaak, voorbereiding, braaitegnieke en speserygebruik. Die wenner, Sonop Boere-unie, het weggestap met R15 000.”

Die dag het ook vir die jeug voorsiening gemaak, met vier plaaslike skole wat aan ’n soortgelyke kompetisie deelgeneem het. Hoërskool Reitz het as oorwinnaars uit die stryd getree.

Een van die hoogtepunte van die dag was die gewilde skaapkop-eetkompetisie, aangebied deur die Riemland Boere-unie. Daar is ook vanjaar vir die eerste keer ’n woldra-kompetisie gehou, geborg deur Zoetis, waar sowel mans as vroue hul kragte gemeet het.

Theo de Jager, Saai-direksievoorsitter; Minki van der Westhuizen, Lamb Champs se seremoniemeester; Chris Retief en Dallas Langman, besturende uitvoerende hoof van Pick n Pay. Foto verskaf

“Lamb Champs werp steeds ’n lig op die toewyding en uitnemendheid van Suid-Afrika se boere. Vanjaar se geleentheid, met trots geborg deur Pick n Pay en ondersteun deur Toyota as ’n kategorieborg, beklemtoon die belangrikheid van plaaslike boerdery en die unieke geure van die Vrystaat,” het Rossouw afgesluit.

OFM Agri cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.