On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Agriculture

Stadig oor die klippe: Die kosbare nalatenskap van Nooitgedacht

───   13:37 Thu, 26 Sep 2024

Stadig oor die klippe: Die kosbare nalatenskap van Nooitgedacht | News Article
Charl en Isabel Saunderson. Foto verskaf

“Nooitgedacht, ’n plaas diep in die Noord-Kaap en in die hart van sy bewoners, het ’n ryk geskiedenis met ’n diepgewortelde tradisie van boerdery wat oor geslagte heen strek.”

Charl Saunderson, die huidige eienaar en vierde geslag op die plaas, deel met trots sy liefde en passie vir die landbou en die erfenis van sy voorvaders met OFM-aanbieder, Shandor Potgieter, in hierdie aflewering van Stadig oor die Klippe.

Nooitgedacht lê tussen Upington en Carnarvon, in ’n streek wat Charl as ‘die hartjie van die beskawing’ beskryf. “Dis ’n ongelooflike wêreld om in te bly. Mooi mense, mooi natuur en baie veilig.”

Die plaas is bekend vir sy dorperskape, ’n geskikte keuse gegewe die droë omgewing, hoewel daar ook beesboerdery plaasvind, maar in beperkte getalle.

Die plaas se vele kampies dra unieke name, elk met ’n storie wat die nostalgie van plaaslewe oproep. “Jy ry deur Keelafsny se Leegte,” begin Charl, terwyl hy die kleurvolle name beskryf wat elke hoek van die plaas kenmerk.

“Tot by Dankbaar, Werf se Knop, ’n bultjie, wat as jy op hom staan en op jou tone balanseer, kan jy jou pensioen sien,” grap hy. Elke naam op Nooitgedacht vertel ’n storie van die mense wat oor die jare daar gewoon het.

Nooitgedacht is nie net ’n plaas nie, maar ’n nalatenskap in die Saunderson-familie. “Ek is bevoorreg om die vierde geslag te wees wat op hom boer,” sê Charl met trots.

‘Dit is meer as net ’n beroep – dit is ’n roeping en ’n liefde’

Hy vertel hoe sy oupagrootjie die plaas in die vroeë dertigerjare gekoop het, net voor die depressie, en hoe elke geslag hulle stempel op die plaas afgedruk het.

Vir Charl is boerdery meer as net ’n beroep – dit is ’n roeping en ’n liefde. “Wanneer die tye swaar is en dit droog is, sê ek gewoonlik daar was nie ’n rewolwer teen my kop toe ek besluit het om te boer nie,” sê hy.

Die liefde vir die land en sy mense is duidelik wanneer hy sy familietradisie beskryf. “Aan my ma se kant, vyf geslagte terug, was hulle almal boere. Aan my pa se kant, dieselfde.”

Charl by een van sy kampioendiere. Foto verskaf

Nooitgedacht is ook die voorloper van volhoubare boerderypraktyke, en in 2024 is Charl aangewys as ’n ‘Klimaatslim-Ambassadeur’ vir die werk wat gedoen word om die grond se drakrag te verhoog. “Ons haal indringerplante uit, verbeter die ekologie, en doen baie navorsing oor die seleksie van ons diere,” verduidelik Charl.

Op 15 Oktober word ’n spesiale boeredag op Nooitgedacht gehou waar boere die kans sal kry om hierdie volhoubaarheidspraktyke eerstehands te ervaar. “Dit gaan ’n geweldige interessante dag wees,” sê Charl, wat hoop dat meer boere geïnspireer sal word om ’n passie vir hul plase te hê.

Met sy diepgewortelde liefde vir sy plaas, die geskiedenis daarvan, en die toewyding om dit vir toekomstige geslagte te bewaar, dra Charl Saunderson die erfenis van Nooitgedacht trots voort.

’n Blik op die ysterklippe en die landskap van Nooitgedacht. Foto verskaf

Shandor Potgieter, OFM-omroeper, besoek plase in Sentraal-Suid-Afrika om agter die kap van die byl te kom van plase se ryk erfenis en unieke tradisies. Om plase, hulle name en die storie agter die name te verken, is OFM se opwindende nuwe reisavontuur se doel, spesiaal vir September, oftewel, Erfenismaand.

OFM Nuus mvh


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.