On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Anny
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Agriculture

Boere sit hand by ná swaar sneeuneerslae

───   ROBYN SCHUTTE 09:34 Wed, 25 Sep 2024

Boere sit hand by ná swaar sneeuneerslae | News Article
Swaar sneeuval het boere in die Harrismith-distrik genoop om op te tree as reddingswerkers. Foto: Sanral

“Swaar sneeuval het boere in verskeie distrikte genoop om in te tree as reddingswerkers en motoriste te help.”

Verlede naweek het dele van die Vrystaat in ’n skilderagtige winterlandskap verander weens uiterste weerstoestande. 

Die verwondering oor die prag is egter gou gedemp toe paaie onbegaanbaar geraak het en wetstoepassers volgens inwoners nie vinnig genoeg reageer het nie.

Swaar sneeuval het boere in die Harrismith-distrik genoop om op te tree as reddingswerkers en motoriste te help.

Beplanning onvoldoende

George Galloway, wat boer in die omgewing, vertel hoe boere op die voorgrond getree het om mense te help wat vasgekeer was deur die swaar sneeu en gevaarlike paaie. Dié gebiede, waaronder Swinburne en Oliviershoekpas, is swaar getref.

Die N3-snelweg was ’n besonderse probleemgebied waar motoriste gestrand geraak het. Die beplanning van beamptes het volgens hom veel te wense oorgelaat. “Toe die voorspellings van sneeu gemaak is, het ons gevoel dat daar vooraf beplanning moes wees soos om ’n noodsentrale by Harrismith op te rig.”


Hy sê motoriste moes betyds by Warden gestop gewees het, maar die gebrek aan voldoende beplanning het gelei tot krisisse wat verhoed kon word soos by die gevaarlike De Beerspas wat bekend is vir sy slegte toestande tydens hoë reënval en sneeu. 

“Ons het verskeie mense moes uittrek en deur die modder help.” Hy en ander boere het met toewyding opgetree en, soos hy sê, dit met ’n “lied in die hart” gedoen, want hulle verstaan die nood van mense wat gestrand raak.

Boere moes inspring

Johan Fourie, streeksverteenwoordiger van die Naledi-streek, het ook sy ervaring gedeel en genoem hoewel daar nie groot strukturele skade aan geboue was nie, verskeie Eskom-lyne afgeval het. Dit het vir nog probleme gesorg. Paaie in die streek was ook sleg beskadig, en boere moes noodgedwonge self inspring om paaie begaanbaar te maak.

Hoewel die volle omvang van die skade aan vee en oeste nog nie bepaal is nie, het verskeie boere wel verliese gely, veral dié wat nie betyds hul vee in die troppe kon kry nie. Die weerstoestande het veral ’n invloed gehad op jong kalwers en lammers wat nie beskut was teen die koue nie.

OFM Agri/Robyn Schutte dg/mc

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.