On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Anny
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Agriculture

Namib-droogte op mespunt, kruip na Suid-Afrika

───   15:14 Tue, 24 Sep 2024

Namib-droogte op mespunt, kruip na Suid-Afrika | News Article
In Namibië is die droogte besonder ernstig. Foto: Pieter Möller

“Die uitwerking van hierdie droogte is duidelik sigbaar langs hoofpaaie, waar mense gras sny om hul vee te voer.”

OFM Agri se Pieter Möller deel sy insigte ná sy reis na Namibië en dele van die Noord-Kaap:

Die afgelope paar weke het ek die voorreg gehad om Namibië en groot dele van die Noord-Kaap te besoek, insluitend Namakwaland. Hierdie streek is bekend vir sy skoonheid, maar tans ook vir sy uitdagende landboutoestande wat wissel van gesonde weivelde tot uiterste droogtes.

In Namibië is die droogte besonder ernstig. Veeprodusente praat van minder as 20 mm reën oor die afgelope agt maande. Die uitwerking van hierdie droogte is duidelik sigbaar langs hoofpaaie, waar mense gras sny om hul vee te voer. Dit was hartverskeurend om te sien hoe noodsaaklike reën dringend benodig word om mens en dier te red. 

In Windhoek het waterbeperkings reeds in werking getree, en inwoners word beboet as hulle water gebruik om motors te was of tuine nat te maak. In hotelle en gastehuise word emmers voorsien om stort- en badwater op te vang vir hergebruik in tuine.

Sekere dele van die Noord-Kaap het steeds redelike weivelde, veral in gebiede naby die Wes-Kaap. Maar verder noord, in streke soos Nuwerus, Garies en Springbok, het die tekens van droogte skerp uitgestaan. Die landskap was somber, met min vee en afgeleë plaashuise wat amper leeg en verlate gelyk het. 

Van Springbok na Pofadder en Upington was die uitwerking van die droogte orals sigbaar. Hierdie droogte is ’n groot uitdaging vir boere, plaaswerkers en hul families, sowel as vir dorpenaars wat swaarkry. Ek het empatie met almal wat sukkel in hierdie moeilike tye. 

Hartlike ontvangs

Maar te midde van hierdie moeilike omstandighede was die vriendelikheid van die mense verblydend. Oral waar ek gegaan het, het ek hartlike ontvangs geniet. Die gemeenskappe is trots op hul herkoms en bly hoopvol, selfs te midde van hul swaarkry.

Soos een boer van suidelike Namibië dit vir my gestel het: “Meneer, ons bid dat die Here ons moet jammer kry en broodnodige reën stuur.” Hierdie woorde vang die hoop en geloof vas wat in die harte van die mense in hierdie gebiede leef. Almal wag op verligting – ’n teken dat die natuur hulle binnekort genadig sal wees.

OFM Agri/Pieter Möller cg/mc

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.